MOSSELBAAI NUUS - "Ek het honderde duisende rande verloor, as dit nie miljoene is nie." Só sê Hynn Munro, eienaar van die Munro Kafee oor die voortslepende padwerke op die R102-pad tussen Hartenbos en Klein-Brakrivier en die impak wat dit op sy besigheid het.
Munro sê sy besigheid het sedertdien met 90% geval omdat daar ná 'n jaar steeds in dié gebied 'n stop-en-ry-sisteem in plek is en die padwerke by sy besigheid nie voltooi word nie. Munro sê hy en ander besigheidseienaars is tydens die openbare deelnameproses die versekering gegee dat die padwerke teen dié gedeelte vanaf 31 Maart tot 3 Oktober, 2018 sal duur.
Dit is egter reeds meer as 'n jaar later en daar is steeds geen einde in sig nie.
Boonop het die Mossel Bay Advertiser 'n jaar gelede, in November, 2018 met die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, Byron la Hoe gesels, wat destyds gesê het daar sal wel nog werk in die gebied plaasvind in 2019, maar, dat verkeer nie daardeur beïnvloed sal word nie.
Die ingangspad voor Swans Kwekery.
Min verbetering
Die eienaar van Swans Kwekery, Charlie Swanepoel was emosioneel toe die Advertiser die afgelope week met hom oor die kwessie gesels. Swanepoel sê dit is 'n skande.
"Ek het verskeie samesprekings met die betrokke ingenieurs en partye gehou maar ek kry bloot nie terugvoer nie. Die kwekery het onlangs weggespoel nadat daar 54mm reën in 'n tydperk van 15 minute geval het. My ingangspad voor die kwekery is stééds nie klaar nie en die water het daar opgedam."
Swanepoel sê hoewel motoriste kan deurry na die kwekery, word daar nimmereindigend aan 'n pad gewerk wat net nie klaarkom nie. "Daar is nie 'n vloei van verkeer nie en ons kry nie die voete wat ons nodig het om te oorleef nie omdat die mense nie kans sien vir die pad en die gewag nie. Ek het reeds honderde duisende rande se verliese gely en hou rekord van die afname in besigheid.
"Ek het ook bewyse van my verlies van inkomste. Hulle gee ons alewig verskonings oor hoekom daar nie aan die pad gewerk kan word nie, maar as dit mooiweer is werk hulle nie. Daar is min na geen verbetering sedert verlede jaar die tyd nie."
Besigheidseienaars op die "ou" pad tussen Hartenbos en Klein-Brakrivier is van mening dat motoriste eeder die gebied vermy. Padwerke sloer reeds etlike maande.
Besighede sluit
Munro sê 'n gedeelte van die pad duskant sy kafee is reeds verskeie kere gelig. "Hulle maak die pad reg, dan lig hulle dit weer op, dan maak hulle dit weer reg, dan lig hulle dit weer op. "Daar sit soms tot vier werknemers by een stop-en-ry om voertuie te beduie wanneer hulle mag deurry. Dit is ons belastingbetalers se geld wat gemors word. Dit lyk soos 'n varkhok hier en ons kliënte wil nie hier ry nie. Die hotel ly ook skade.
Volgens Munro het reeds twee besighede in die gebied hul deure gesluit. "Die karavaanbesigheid asook 'n selfoonwinkel het gesluit." "Ek het al my polisse laat losmaak sodat ek my werknemers kan aanhou betaal. Ek het 'n verantwoordelikheid teenoor my mense, en al sal dit my geld bespaar om eerder my besigheid te sluit, kan ek dit nie aan my mense doen nie."
Die skade voor Swans Kwekery nadat die pad tydens die onlangse reën verspoel het. Die eienaar, Charlie Swanepoel sê indien die ingangspad al voltooi was, die skade vermy sou kon word.
Munro sê die versekering is aan hulle gegee dat die padwerke vir die Desember-vakansieseisoen sal stop en die pad dus dan gebruik sal kan word. "Die brug is egter nog nie voltooi nie en ek kan nie sien hoe hulle die gebied by die brug sal voltooi binne slegs 'n paar dae nie, dit vat hulle dan al maande vir die res van die gebied."
John Robertson, 'n boer in die omgewing, het intussen 'n beroep op die Midbrak-belastingsbetalersvereniging gedoen om namens besighede wat deur die padwerke beïnvloed word, standpunt in te neem.
Robertson sê sy boerdery ervaar produksieverlies weens die aanhoudende stofwolke wat oor sy weivelde duskant die Sandhoogte-pad lê.
"In die huidige droogte kan ons nie die luukse bekostig om weivelde skoon te spuit met besproeiïngswater nie en kan ons dus nie die beste voer vir ons vee verseker nie." Robertson sê hulle het die afgelope jaar die deurpad met hul eie tenkwa natgemaak net om stof in die huis en werkershuise te verminder.
Hynn Munro (regs) sê hy word nie meer kwaad oor die kwessie nie, maar voel intens hartseer. Net buite Hartenbos is 'n stop-en-ry-sisteem in plek op die R102 vanaf Monte Christo in die rigting van Swans Kwekery. Foto: Louise Karsten
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'