MOSSELBAAI NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier het die dossier van opsetlike saakbeskadiging na aanleiding van die dood van 40 springbokke wat dood op 'n plaas in Jonkersberg aangetref is, gesluit.
Intussen is dit steeds 'n raaisel hoe die trop bokke, wat aan Barend Uys behoort, dood is. Uys was op Woensdag, 24 Januarie by sy trop bokke wat op daardie stadium steeds springlewendig was, maar het tydens sy besoek aan hulle op Vrydag, 26 Januarie hulle karkasse ontdek.
Volgens Uys het die bokke verspreid oor die hele kamp gelê. Uys boer met die bokke en beskryf die diere as sy droom en trots.
Volgens Uys was altesaam 24 van die springbokooie dragtig en sou hulle binnekort lam.
Hy het ook pragtige ramme gehad. Sy skade beloop volgens hom sowat R250 000.
Die woordvoerder van die polisiestasie op Groot-Brakrivier, sers Chantel Marais sê die saak is gesluit. "Ons het ook nooit 'n nadoodse ondersoekverslag ontvang nie."
Uys sê hy is steeds van mening dat iemand opsetlik honde in sy wildskamp vrygelaat het, met die doel om sy bokke dood te byt.
"Die polisie meen die honde het self toegang tot die kamp verkry, maar ek dink iemand het hulle honde in die kamp vrygelaat." Uys sê hy laat die saak nou vaar.
Lees vorige artikels:
- Ondersoek na bokke se dood duur voort
- Dooie springbokke 'n kopkrapper
- Opvolg: Springbokke doodgebyt
- Boer krap kop oor bokke se skietdood
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'