Update
MOSSELBAAI NUUS - Dit is steeds 'n raaisel hoe 40 springbokke op 'n plaas in Jonkersberg naby Groot-Brakrivier dood is.
Die eienaar van die plaas, Barend Uys was op Woensdag, 24 Januarie by sy trop bokke wat op daardie stadium steeds springlewendig was, maar het tydens sy besoek aan hulle op Vrydag, 26 Januarie hulle karkasse ontdek.
Volgens Uys het die bokke verspreid oor die hele kamp gelê. Uys boer met die bokke en beskryf die diere as sy droom en trots.
Volgens Uys was altesaam 24 van die springbokooie dragtig en sou hulle binnekort lam.
Hy het ook pragtige ramme gehad. Sy skade beloop volgens hom sowat R250 000.
Uys het die polisie op Groot-Brakrivier ontbied omdat sy aanvanklike vermoede was dat die bokke geskiet is.
Polisiebeamptes en -honde het die toneel besoek maar geen patroondoppies was op die oog af sigbaar nie.
Twee karkasse is na 'n veearts op Mosselbaai geneem vir 'n nadoodse ondersoek. Uys sê die twee bokke het trauma aan die nek opgedoen.
Geen lood is tydens die ondersoek in die karkasse gevind nie.
Dit kan op die stadium nie bewys of bevestig word dat honde die bokke gebyt het nie hoewel merke, soortgelyk aan bytmerke aan van die bokke se keel en agterstewe gevind is.
Volgens Uys het iets of iemand beslis die bokke verskrik, maar die presiese omstandighede van wat op die betrokke dag sou kon gebeur het, is nog duister.
Een van die spring-bokke wat in die veld aangetref is.
Elize Rautenbach wat ook op die plaas betrokke is sê die wildsheining is nuut en slegs 'n klossie hare is op een plek aan die heining gevind.
Volgens die polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais is die ondersoek in 'n sensitiewe stadium.
"Ons wil weet wat presies op mnr Uys se plaas gebeur het en sal die saak ondersoek totdat ons 'n antwoord het."
Enigeen met in-ligting of wat iets opgemerk het wat verdag was, word versoek om die polisie te kontak (044 620 2495).
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutse Mosselbaai, Tuinroete nuus'