MOSSELBAAI NUUS - Die verkiesing van politieke strydros Helen Zille as voorsitter van die DA se federale raad verlede naweek, het die land aan die gons. Zille het in 'n ietwat verrasssende wending binne die party, na 'n bemarkingsveldtog van ongeveer twee weke voor die verkiesing, haar drie gesoute teenstanders en senior partylede Athol Trollip, Mike Waters en Thomas Walters uitgestof. Sy neem oor by James Selfe.
In verdere verwikkelinge, het die party se leier Mmusi Maimane, asook federale voorsitter Athol Trollip Woensdag, 23 Oktober bedank. Dit volg nadat die Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, Maandag bedank het.
Drie individue van Mosselbaai het verlede naweek deel gevorm van die federale raad van ongeveer 150 lede wat die nuwe voorsitter tydens 'n byeenkoms in Johannesburg sou kies.
Dit sluit in die DA-takvoorsitter, Lodewyk Coetzee as die streek se nie-publieke verteenwoordiger, die DA-streeks- en Mosselbaai-kiesafdelingshoof, Jaco Londt en die uitvoerende onderburgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé as die verteenwoordiger van die streek se 156 raadslede op die federale raad.
Kritiese verslag
* Met al die omstredenheid ná Zille se verkiesing, het die Mossel Bay Advertiser raadsheer Kotzé vroeër vandeesweek oor sy persoonlike ervaring van die naweek se gebeure, gepols.
"Ek het, soos die publiek en DA-kieser in die algemeen, aanvanklik besorgd gevoel, maar nadat die adviserende komitee se verslag, wat deeglik en feitelik saamgestel is, behandel en aanvaar is, het 'n gerustheid ingetree." Kotzé het in 'n nuusbrief aan DA-kiesers wat per e-pos vandeesweek versprei is, beaam dat verlede naweek se vergadering in 'n positiewe, konstruktiewe en geordende manier plaasgevind het.
Kotzé het gesê dat die verslag nie net goedsmoeds saamgestel is nie, maar dat dit 'n goed nagevorste stuk werk is. "Ek het Sondag, selfs beter gevoel oor die verwikkelinge toe daar besluit is om die verslag openbaar te maak." Volgens Kotzé is daar boonop 13 resolusies geformuleer wat die party daadwerklik in lyn sal bring met die mandaat wat deur kiesers aan hulle gegee is.
"Die DA het besef dat goed nie gebeur soos die kiesers verwag nie. Daar is 'n besef dat sekere kiesers in die proses beledig is en al het ons partyleier dit nie noodwendig gedoen nie, wil ek vir ons Mosselbaaise kiesers om verskoning vra."
Kotzé het egter gesê dat die verslag en veral die voorgenome openbaarmaking daarvan vir hom essensieel is, omdat geen politieke party onder die vaandel van die nuwe demokrasie nog sover gegaan het om hulleself te korrigeer nie.
"Die DA het wel teruggesak in die vorige verkiesing, maar daar is introspeksie gedoen, na kiesers geluister en effektief met hierdie inligting gehandel."
Kotzé het gesê dat hy groot vertroue in Zille en haar leierskap het. "Sy is 'n baie effektiewe leier en het nog net goed gedoen vir die party."
Ten spyte van die negatiewe mediaberigte, is Kotzé van mening dat daar daadwerklik stappe geneem is om die mandaat wat kiesers destyds aan die party gegee het, tot uitvoering te bring. "En dít is om 'n nie-rassige party te wees, wat alle mense kan verteenwoordig. Die DA wil nie party kiesers as minderwardig teenoor ander sien nie. Dit is inteendeel 'n voertuig waarin alle rasse gesamentlik vorentoe kan beweeg in hierdie land as 'n geheel."
Kotzé het alle kiesers uitgenooi om enige vrae oor die pas afgelope verkiesing met vrymoedigheid met hom of die ander streeksverteenwoordigers te stel
Kontak Dirk Kotzé (083 275 0033), Jaco Londt (082 373 4221), Lodewyk Coetzee (082 939 0443).
* Die onderhoud met Kotzé is gevoer vóór die mediastorm opnuut losgebars het na die bedanking van Maimane en Trollip op Woensdag, 23 Oktober.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'