MOSSELBAAI NUUS - Misnoegde ouers het Maandagoggend in getalle by Diaz Primêre Skool opgedaag in reaksie op die feit dat minstens 60 leerders en twee opvoeders nie voorsiening gaan wees in die nuwe fasiliteite wat vir die skool in aanbou is nie.
Ouers het verlede week twee keer in die AGS-kerksaal in D'Almeida vergader om 'n plan van aksie te bespreek.
Tydens 'n vergadering op Dondardag, 22 Augustus is daar besluit om die skool te beset en te keer dat die boukontrakteurs verder bou, het Icosa-leier, Dawid Kamfer Maandagoggend berig.
Kamfer is deur die ouergemeenskap uitgenooi om hulle tydens die vergaderings by te staan en toe te spreek.
Die ouers vrees dat die kinders nie sal kan skoolgaan nie en dat die opvoeders werkloos sal wees. Na bewering is daar wel bewyse dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement oor die akkommodasieprobleem ingelig is en dat daar wel besluit is om twee bykomende klaskamers tot die fasiliteite toe te voeg.
"Dit blyk die kringinspekteur het tydens 'n besoek aan die skool verlede week die skoolhoof ingelig dat van die planne vir die twee ekstra klaskamers afgesien is," sê Kamfer. "Blykbaar is die beheerraad ook oor die besluit ingelig."
Die beheerraad moes dringend die ouers inlig oor die besluit en 'n dringende vergadering is beroep. Kamfer sê hy en ander gemeenskapleiers het onderneem om dringend met die beheerraad saam te werk om 'n oplossing vir die probleem te beding.
Tydens Maandagoggend se optog na die skool, het ouers plakkate vertoon wat onder meer spreek van hulle voorneme dat daar nie in die nuwe skool ingetrek sal word nie. Die pad voor die skool is met vullissakke versper en verkeer is ontwrig. Lede van die Da Gamaskop-polisie asook lede van gemeenskapsveiligheid was op die toneel.
"Ek het talle oproepe gemaak na die onderwysdepartement asook die minster se kantoor," het Kamfer vanaf die skool berig.
Teen druktyd het Kamfer gesê dat 'n afgevaardigde van die WKOD die misnoegde ouers, wat steeds by die skool rondgestaan het, sou kom toespreek om die sak te beredder.
Kommentaar
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het by navraag gesê daar was duidelike kommunikasie met die skool rakende die ekstra twee tydelike klaskamers.
Die kringbestuurder het in Februarie reeds dit deeglik gekommunikeer dat die skool nie die bykomende twee tydelike klaskamers sou ontvang nie nadat vasgestel is dat die versoek betrekking het op twee pre-graad R-klasse.
"Gegewe die dringende behoefte aan akkommodasie in die groter Wes-Kaap en die beperkte begroting vir tydelike klaskamers kan die WKOD nie die koste vir die aankoop of oordrag van mobiele klaskamers vir pre-graad R-leerders regverdig as ons nie voldoende klaskamers het om hoofstroomleerders vanaf graad 1 tot 12 te akkommodeer nie.
Pre-graad R is nie ons verantwoordelikheid nie," het die departement aangevoer.
Lees 'n verwante artikel hier: Bekommernis oor oorvol skool
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'