MOSSELBAAI NUUS - Ouers van leerders van Diaz Primêre Skool het vandeesweek die AGS-kerksaal stampvol gesit om hul kommer en ontevredenheid oor skoolsake te deel.
Dit blyk dat daar vir minstens 60 leerders en twee opvoeders nie voorsiening gaan wees in die nuwe fasiliteite wat vir die skool in aanbou is nie.
Die ouers vrees dus dat die kinders nie sal kan skoolgaan nie en dat die opvoeders werkloos sal wees.
Na bewering is daar wel bewyse dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement oor die akkommodasieprobleem ingelig is en dat daar wel besluit is om twee bykomende klaskamers tot die fasiliteite toe te voeg.
"Dit blyk die kringinspekteur het tydens 'n besoek aan die skool verlede week die skoolhoof ingelig dat van die planne vir die twee ekstra klaskamers afgesien is," sê die Icosa-leier, Dawid Kamfer wat deur die ouergemeenskap uitgenooi was om hulle tydens die vergadering by te staan en toe te spreek. "Blykbaar is die beheerraad ook oor die besluit ingelig."
Die beheerraad moes dringend die ouers inlig oor die besluit en 'n dringende vergadering is beroep. Kamfer sê hy en ander gemeenskapleiers het onderneem om dringend met die beheerraad saam te werk om 'n oplossing vir die probleem te beding. 'n Opvolgvergadering is op Donderdag, 22 Augustus, na druktyd vir dié week se uitgawe van die Mossel Bay Advertiser, gehou om 'n plan van aksie te beraam.
Kommentaar
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het by navraag gesê daar was duidelike kommunikasie met die skool rakende die ekstra twee tydelike klaskamers.
Die kringbestuurder het in Februarie reeds dit deeglik gekommunikeer dat die skool nie die bykomende twee tydelike klaskamers sou ontvang nie nadat vasgestel is dat die versoek betrekking het op twee pre-graad R-klasse.
"Gegewe die dringende behoefte aan akkommodasie in die groter Wes-Kaap en die beperkte begroting vir tydelike klaskamers kan die WKOD nie die koste vir die aankoop of oordrag van mobiele klaskamers vir pre-graad R-leerders regverdig as ons nie voldoende klaskamers het om hoofstroomleerders vanaf graad 1 tot 12 te akkommodeer nie.
Pre-graad R is nie ons verantwoordelikheid nie," het die departement aangevoer.
Bekommerde ouers het die AGS-saal volgepak om hul kommer oor die oorvol skool te opper.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'