TUINROETE DISTRIKSNUUS - 'n Opvolgsoektog na die 70-jarige Petrus Groenewalt van die Mosselbaai-omgewing het verlede Donderdag, 4 November, op die Saasveldpad net buite George plaasgevind.
Groenewalt word sedert 9 Maart vermis nadat hy sy huis in Keurboomstraat, Hartenbos, verlaat het. Sy wit Toyota Hilux is later gevind, maar geen spoor van hom nie.
Destyds het verskeie spesialisinstansies en vrywilligers vir meer as twee weke na hom gesoek.
Verskeie rolspelers waaronder die polisie, SANParke en Working on Fire het aan verlede Donderdag se opvolgsoektog deelgeneem. Sowat 60 mense was daarby betrokke en die pad aan beide kante in die omgewing van Silver River Bridge is gefynkam.
Selfs 'n hond en sy hanteerder van die polisie se honde-eenheid is ingespan.
LEES MEER: Soektog na Petrus Groenewalt hervat
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gister, Woensdag 10 November, aan George Herald gesê ongelukkig is geen nuwe leidrade of spore gevind nie.

Dit is Donderdag gehou omdat die polisie nuwe inligting bekom het wat groter duidelikheid kon gee. Hy het gevra dat die publiek met die polisie kontak maak as hulle nuwe inligting het sodat die polisie dit kan opvolg.
Kontak die naaste polisiekantoor of Stop Misdaad by 8600 10111.
LEES MEER: Hartenbos-man steeds vermis

'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'