Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaai en omgewing is met reg trots op sy seuns en dogters wat vir hulle elders 'n groot naam maak. Veral diegene wat internasionaal bekendheid verwerf soos die gholfer, Louis Oosthuizen. "Wanneer Louis internasionaal deelneem word hy steeds aangekondig as Louis Oosthuizen van Mosselbaai," aldus Petrie Cronjé, hoof uitvoerende beampte van Foundation57, Oosthuizen se welwillendheidstiging.
Oosthuizen het vroeër vandeesweek, nóg 'n eretitel gekry. Hy is op Hartenbos deur die ATKV as Afrikoon bekroon.
Met die toekenning van gholfer Louis Oosthuizen se ATKV-Afrikoonstatus vandeesweek, het ATKV-streeksbestuurdeer, Elda Kruger uitgestip waarom sy prestasies op die gholfbaan so besonders is.
"Louis het in sy leeftyd al baie bereik, maar dat hy sy sukses in die internasionale sportwêreld gebruik om 'n verskil te maak daar waar sy gholfsukses begin het, is merkwaardig. Dáárom is hy 'n Afrikoon."
Fotogalery: Louis Oosthuizen nou 'n Afrikoon
Kruger het op uitnodiging van die plaaslike ATKV Langsoustak, dié status op Maandag, 20 September in Hartenbos tydens 'n geselligheid toegeken. Berenice Kogana Paulse, voorsitter van die Louis57 Transformasie Trust, het die toekenning namens Oosthuizen in ontvangs geneem. Sy is ook 'n lid van die Langsoustak.
Kyk 'n video hieronder:
Erfenishelde
Claire du Plessis, voorsitter van die tak het verduidelik waarom hulle keuse juis op Oosthuizen geval het. Volgens Du Plessis, is haar man 'n gholfentoesias. Toe sy van Oosthuizen en sy sukses te hore kom, was sy net so beïndruk.
"Hier was iemand wat nie net volksbesit is nie, maar hy is van Mosselbaai. Hy is ons s'n."
Bo en behalwe Oosthuizen se internasionale sukses, is dit juis die werk wat deur middel van sy welwillendheidstigting, Foundation57 gedoen word, wat die grootste indruk gemaak het.Sedert 2013, benoem die ATKV Langsoutak erfenishelde uit die plaaslike gemeenskap.
"Ons erken hulle bydrae tot die kultuur-historiese erfenis van Mosselbaai en ons huldig wat hulle ons geleer het. Ons eerste heldin was ant Henna Brinkhuis, baaskok en bakster. Daarna was dit oom David Smith, gemeenskapsman, maar ook 'n Springbok-rugyspeler.
Toe sr Dora Pedro, veteraan-gesondheidswerker en 'n vegter vir die waardige lewering van gesondheidsdienste. Oom Charlie en tannie Madge Hendricks, 'n paartjie wat gesamentlik meer as 100 jaar in die All Saints-kerkbrigade dien, was van die laaste bekroondes." Sy noem ook die musikant, Abe Daniels; die arbeidsaktivis, Sylvia Cordom; gemeenskapsmens, Sam October en die klopdanser Pappa Terry Olckers, wat al gehuldig is.
Wat Du Plessis veral van Oosthuizein beïndruk het, is dat hy met van sy prysgeld 'n John Deere-trekker wou aanskaf.
"Dit is wonderlik om erkenning aan jou komvandaan, jou wortels te gee. Dít, is erfenis."
Erfenis, het Du Plessis uitgebrei, bied geleentheid en ruimte aan elke Suid-Afrikaner om sy of haar komvandaan in herinnering te roep en dit te vier.
"Gholf is deel van Mosselbaai se erfenis, maar nie alle inwoners se ervaring is dieselfde nie. As Mosselbaaiers, kan ons nie ontken dat ons almal trots is dat Louis Oosthuizen uit ons geweste kom nie."
Welwillendheid
Foundation57 ondersteun vier instellings. Die gholfakademie, Academy57, bied gratis afrigting aan kinders en het al verskeie sterre opgelewer. Leolan Academy, vir kinders met spesiale leerbehoeftes, insluitend outisme en Down-sindroom, is ook 'n begunstigde. Die voedingsprogram, iPapa57, is geïmplementeer by 16 vroeë kinderontwikkelingsentrums in Mosselbaai. Hierdeur kry 500 kinders tussen die ouderdom van 3 en 5 jaar daagliks spesiaal geformuleerde pap wat in hulle voedingsbehoeftes voorsien. Die program is onlangs uitgebrei om ook aan die kinders se gesinne pap te voorsien. Kids With Cancer bied finansiële hulp aan die gesinne van kinders wat met kanker gediagnoseer is.
In 2019, is die Louis57 Transformasie Trust gestig. Hierdeur word spesiale en eenmalige projekte befonds. Samesprekings vir 'n samewerkingsooreenkoms met Prinses Charlene van Monaco is reeds in 'n gevorderde stadium vir 'n nasionale en internasionale voeding- en fondsinsamelingsprojek. Hierdie projek sal ten doel hê om die iPapa57-voedingsprogram na dorpe naby Mosselbaai uit te brei.
Die ATKV en Foundation57 werk sedert 2015 saam, toe die ATKV deur 'n borgskap betrokke by Academy57 se gholfontwikkelingsprogram betrokke geraak het. Die fondse van hulle gesamentlike gholfdag, word aangewend vir verdienstelike projekte.
Petrie Cronjé het 'n brief namens Oosthuizen as ontvangserkenning voorgelees. Oosthuizen is tans in die buiteland en word eers in Desember in Suid-Afrika verwag.
"Dit is met dank en nederigheid dat ek die ATKV-Afrikoontoekenning aavaar. Dit is my en Nelmari se passie om deur middel van my stigting in Mosselbaai se gemeenskappe betrokke te kan wees," het Oosthuizen in sy brief te kenne gegee.
Lede van die ATKV Langsoustak (agter van links) Alfred du Plessis, Lenise Hendricks, Berenice Kogana Paulse, Revona Kees en (voor) Claire du Plessis (takvoorsitter) en Charlie Hendricks.Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'