MOSSELBAAI NUUS - Terwyl die feesseisoen aangebreek het en Mosselbaai uit sy nate bars met vrolike vakansiegangers, is 'n gemeenskap in die hartjie van Klein-Brakrivier opstandig én angstig omdat hulle toekoms in die Powertown-woongebied in gedrang is.
Powertown se inwoners word na Sonskynvallei hervestig, waarna die grond wat hulle tans bewoon tot 'n vleiland gerehabiliteer sal word.
Die woongebied is onder die 1:100 vloedlyn geleë en dus aan 'n vloedgevaar onderhewig.
Talle inwoners weier egter om te hervestig. Hulle sê Powertown is hul huis, dat dit aan hulle bekend is en dat hulle nie sal trek nie. Een inwoner, Colin Syfers sê hy is gebore in Powertown en sal nie buite die grense van Klein-Brakrivier woon nie.
Syfers sê baie inwoners werk in Klein-Brakrivier en kan nie vervoer vanaf Sonskynvallei na hul werksplek bekostig nie.
Gemeenskap vergader
Sowat 80 inwoners van Powertown het tydens 'n dringende gemeenskapsvergadering op Woensdag, 13 Desember in die woongebied bymekaargekom.
Dit volg nadat 'n voorlopige hofbevel op 8 Desember teen die Mosselbaai-munisipaliteit bekom is om 'n woning waarin Gavin Dyssel (34) saam met sy ma gewoon het, te herstel.
Die woning is na bewering afgebreek omdat Dyssel se ma, die eienaar van die huis waarin Dyssel gewoon het, een van talle Powertown-inwoners is wat wel in Sonskynvallei 'n nuwe huis betrek het.
Daar is met Powertown-inwoners ooreengekom dat hul Powertown-huise afgebreek sal word sodra hulle hul nuwe Sonskynvallei-huis betrek. Dyssel weier egter om te trek.
Skoolvervoer
'n Ander kwessie waaroor inwoners bekommerd is, is vervoer vir Powertown se kinders wanneer gesinne na Sonskynvallei trek.
Die kinders gaan tans skool op Groot-Brakrivier en geen vervoer is vir 2018 vanaf Sonskynvallei na die skole in Groot-Brakrivier omgewing beskikbaar gestel nie.
Die omliggende skole in Hartenbos het reeds onlangs aangedui dat daar nie juis veel plek vir nog 'n groot aantal bykomende leerders is nie.
Inwoners van Powertown drom saam om prokureur Reagan Brown en raadslid David Kamfer.
Dit gemeenskap vrees dus dat hul kinders nie meer sal kan skoolgaan nie omdat die ouers die vervoer nie sal kan bekostig nie. Tans word kinders van Powertown met 'n bus skool toe vervoer.
"Dit is ook traumaties vir kinders om van skool te moet verander," sê Syfers.
'Dis julle grond'
Tydens die vergadering het prokureur Reagan Brown en raadslid David Kamfer bekommerde inwoners toegespreek.
Brown het aan inwoners gesê dat niemand hulle kan dwing om te trek nie. "Dis julle grond die.
"As jy nie wil trek na Sonskynvallei nie, dan trek jy nie. Die munisipaliteit het nie 'n hofbevel gekry om mense uit hul huise te sit nie want hulle weet hulle is op verlore grond."
Kamfer het aan inwoners gesê dat daar mense in Sonskynvallei is wat reeds jare op 'n waglys vir 'n huis is.
"Hoe kan mense van Powertown skielik daar 'n huis kry, as daar mense is wat jare al moes wag?"
Inwoners het aan Kamfer en Brown gesê polisiebeamptes was op Dinsdag, 12 Desember in Powertown. Die indruk is geskep dat inwoners na bewering hierdeur geïntimideer is om hul wonings op te gee.
Hierop het Kamfer gesê dat dit ontoelaatbaar is en dat polisielede geen reg het om "weerbarstig" te raak nie. "Julle is nie kriminele nie.
"Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit krisisse skep en dan van die polisie verwag om in te tree."
Verskeie inwoners het aan die Mossel Bay Advertiser na afloop van die vergadering gesê dat hulle nie sal trek nie.
"Dis my en my kinders se huis hierdie. Ons bly nét hier," het 'n vrou met 'n kind op haar heup gesê.
Brown sê hy tree namens al die inwoners van Powertown op en is bereid om hul kwessies voor die hof te bring. Na afloop van die vergadering het inwoners hulle besonderhede aan Brown verskaf.
Prokureur Reagan Brown vat 'n blaaskans tydens die vergadering.
Spoliasie-aansoek
Die munisipale bestuurder van Mosselbaai-munisipaliteit, adv Thys Giliomee sê: "In opvolg van die Ex Parte Dringende Spoliasie-aansoek wat verlede week deur mnr Dyssell teen Mosselbaai-munisipaliteit verkry is, bevestig die munisipaliteit dat hul regspan in gesprek is met Dyssell se regspan.
"Die hofdatum in hierdie verband is op versoek van die Mosselbaai-munisipaliteit vervroeg na vandag, Vrydag 15 Desember."
Intussen is dit duidelik dat die behuisingkwessie van Powertowners nie sonder 'n geveg opgelos sal word nie.
"Dit is maklik vir die mense daar 'bo' met baie geld en 'n lekker huis om vir ons te kom voorskryf waar ons met ons kinders moet heengaan.
"Dit raak aan ons. Laat daardie mense uit hulle huise trek en na 'n vreemde woongebied gaan, sonder vervoer vir hulle kinders," het nog 'n vrou wie se kinders om haar saamgedrom het aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Lees 'n vorige artikel: Hofbevel in Powertown-saak toegestaan
ARTIKEL & FOTO'S: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'