MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se sakevroue kan hulleself tereg op die skouer klop.
Dít, nadat die plaaslike tak van die South African Council of Business Women (SACBW), as die beste tak in die land aangewys is.
Die toekenningsgeleentheid is Vrydag, 22 Oktober gehou.
Tydens die geleentheid, is plaaslike sakevrou, Marlene Smuts as nasionale wenner in die sakevrou van die jaar-kategorie aangewys. Smuts is ook benoem as nasionale ambassadeur vir die SACBW, wat vanjaar sy 33ste bestaansjaar vier.
Tien ander taklede het op meriete deurgedring as finaliste in die nasionale kompetisie.
Lorette Grobbelaar, voorsitter en stigterslid van die plaaslike SACBW-tak, is in 2015 as die SACBW se sakevrou van die jaar aangewys. Sy het vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die organisasie haar destyds reeds gevra het of sy nie 'n tak in Mosselbaai wil stig nie.
"Vanweë ander verpligtinge, kon ek dit net nie bybring nie. Toe die SACBW my verlede jaar weer vra, het ek ingestem om vanjaar 'n tak te stig."
Die SACBW se Mosselbaai-tak is in Maart vanjaar gestig. Aangesien 15 betalende lede noodsaaklik is vir 'n volwaardige tak, het die SACBW Mosselbaai in Junie amptelik in bedryf gekom.
Vinnige groei
Die tak het tans 45 lede uit 'n groot verskeidenheid sakesektore. Na merkwaar-dige groei binne 'n kort bestek van tyd, is dit ook die grootste tak in die land.
"Ons netwerksessies word gemiddeld deur 50-70 vroue maandeliks bygewoon. Goeie sprekers word ingebring en lede kry 'n kans om hulle storie te vertel, wat 'n groot trekpleister is omdat dit so inspirerend is. Ons gesels lief, leed en besigheid. Ek glo dat ons tak se bedrywighede 'n getuigskrif van die SACBW se kernwaardes, naamlik embrace, empower, unite - is," verduidelik Grobbelaar.
Tydens Vrydag se geleentheid, het die plaaslike tak ook die grootste bydrae tot die nasionale Dignity Handbags-projek gelewer. Hiervolgens word handsakke gevul met essensiële benodigdhede vir behoeftige, enkelma's. Die SACBW Mosselbaai het 59 handsakke, die meeste landwyd ingesamel.
Volgens Grobbelaar doen hulle tans geen werwing nie. Die tak groei organies. Vanweë die plaaslike sukses in groei, is Grobbelaar deur die SACBW versoek om nog takke in die Wes-Kaap te help vestig.
Die Wes-Kaap is ook aangewys as die SACBW provinsie van die jaar.
"Die tyd is nou reg om vroue in die Wes-Kaap verder ekonomies te bemagtig, juis omdat die ekonomiese klimaat meer stabiel as elders in die land blyk te wees," sê Grobbelaar
Wat die resep van haar sukses betref, som Marlene Smuts dit soos volg op.
"Ek glo dat as 'n mens nie 'n keuse of ander opsie het nie, is mens tot enigiets in staat, jy hoef nie afhanklik van ander mense te wees nie. Trek jou hakskoene aan, verf jou lippe rooi en pak die taak met selfvertroue aan. You can do this!"
VORIGE ARTIKEL: Business woman shine nationally
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'