MOSSELBAAI NUUS - ‘n Vyftigjarige onderwyser van Erika Primêre skool op Mosselbaai sal weer op 22 Junie in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van seksuele aanranding. Die verdagte het op Maandag, 13 Junie in die Mosselbaai-landdroshof sy eerste verskyning gemaak.
Hy word daarvan verdink dat hy minstens vier kinders tydens skooltyd seksueel aangerand het. ‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die voorvalle op verskillende tye gebeur het.
Die mees onlangse voorval het verlede week plaasgevind. Die onderwyser is die afgelope naweek, op 11 Junie deur die polisie op Mosselbaai in hegtenis geneem. Die naam van die verdagte mag nie deur die media bekend gemaak word alvorens hy op die aanklagte teen hom gepleit het nie.
Intussen het die Wes-Kaapse Departement van Onderwys aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat 'n ondersoek na die voorval van stapel gestuur is. Woordvoerder, Bronagh Hammond sê hulle is bewus van die voorval. "Ons is met die skoolhoof in kontak en wag op die uitkoms van 'n interne verhoor wat deur die skool gehou word. Die departement ondersoek ook self die voorval na aanleiding van die aantuigings wat teen die onderwyser gemaak word."
Die verdagte sal tydens sy volgende hofverskyning formeel om borgtog aansoek doen en bly in aanhouding hangende die uitkoms van die borgaansoek.
Vorige artikel: Onderwyser in hof oor seksuele aanrandings
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'