MOSSELBAAI NUUS - Jurie Zietsman (oud-Mosselbaaier) en sy niggie Juletha-Marie Dercksen (Stellenbosch), het hul doktorsgrade by die Universiteit Stellenbosch (US) se onlangse gradeplegtigheid, met groot glimlagte ontvang.
Jurie in bedryfsingenieurswese en Juletha-Marie in regsgeleerdheid. Hulle is die kleinkinders van wyle dr Jurie en Juletha Zietsman, bekende oud-Mosselbaaiers.
Jurie is ‘n oud-hoofseun van Laerskool Park en Hoërskool Punt.
Dié twee slimkoppe spog met ‘n lang lys uitstaande akademiese prestasies. Albei het die rektorstoekenning as die beste voorgraadse- en meestergraadstudente in hul onderskeie kursusse cum laude ontvang. Jurie was ook op die 2015 Wes-Kaap merietelys vir matrieks.
Hulle is nie net slim nie, maar streef albei ‘n gebalanseerde leefstyl na wat uitgewys word deur hul sportprestasies. Jurie was ‘n eerstespan tennisspeler en klubkaptein vir Maties terwyl Juletha-Marie haar nasionale kleure in perde-uithouritte verwerf het. Hulle deel ook ‘n liefde vir uithousport, soos driekamp (Halfysterman), marathonne en fietswedrenne (Cape Town Cycle Tour).
Jurie, die seun van Jurie en Elzé Zietsman van Mosselbaai, werk tans as bedryfsingenieur op Stellenbosch en Juletha-Marie as kandidaat-prokureur in Kaapstad.
Jurie was ook benoem vir die kanseliersmedalje, wat die hoogste eerbewys is vir uitstaande studente. Dit word gegee aan die student wat op alle vlakke die beste presteer - akademies, sport en kultuur. Jurie het net-net nie die paal gehaal nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’