MOSSELBAAI NUUS - 'n Paar weke gelede het die Mossel Bay Advertiser berig dat 'n studie wat verlede jaar gedoen is, getoon dat tot 78% van alle graad 4's nie met begrip in hul moedertaal kan lees nie.
Nal'ibali is 'n interaktiewe leesprogram wat voorlesers toerus om op 'n maklike, heerlike en sinvolle manier saam met kinders te lees om hulle volle potensiaal deur stories en boeke te ontsluit.
Die woord is 'n isiXhosa vir "hier is 'n storie" en dit is 'n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat in 2012 deur DGMT en PRAESA geïnisieer is.
Kinders wat van jongs af aan boeke en stories blootgestel word in 'n taal wat hulle verstaan, word selfgemotiveerde, lewenslange lesers. Dus is 'n verrykende leerproses die padkaart vir suksesvolle verdere kritiese geletterdheidsontwikkeling onder kleuters.
Sedert 2017 het die diensgroep Diaconia, 'n eenheidsbediening van die NG Kerk en die VG Kerk, in 'n samewerkingsooreenkoms met Nal'ibali gegaan om gemeentes te help om meer aktief by vroeëkinderontwikkeling betrokke te raak.
Op Vrydag, 7 Junie het 'n groep van 28 belangstellendes 'n kursus by die NG Moedergemeente bygewoon met die oog daarop om leesgroepies in die wyer Mosselbaai leesgroepies onder gemeenskappe te vestig. Onder die bekwame leiding van Righardt le Roux, 'n fasiliteerder by Diaconia is hulle op 'n interessante reis geneem om hulle nie alleenlik baie entoesiasties te maak nie, maar ook om hulle toe te rus om die program in hul eie omgewing aan te bied.
Hoewel dit 'n inisiatief van die NG Kerk is, word geeneen uitgesluit wat sou aandui dat hulle by hierdie program betrokke sou wou raak nie.
Daar word beoog om leesgroepies by speelskooltjies, kleuterskole, biblioteke en selfs hoërskole te begin. Daar is reeds goeie aanduidings onder plaaslike biblioteke dat hul hierdie inisiatief voluit gaan ondersteun. Veral oupas en pa's word ook uitgenooi aangesien dit 'n kragtige boodskap aan kinders kan uitstuur wanneer hulle sien hoe die mans hul in stories en boeke verlustig.
Die kursus kan eweneens ook in Engels aangebied word. Omdat alle taalgroepe by hierdie program kan baat, word ook persone wat Xhosa magtig is, aangemoedig om dit by te woon en die opleiding te ondergaan. Leesstof is beskikbaar in Afrikaans, Engels en Xhosa.
Die kursus is gratis en 'n daglange geleentheid. Enigeen wat hierin sou belangstel, word genooi om kontak te maak met Ena Loubser. Stuur 'n WhatsApp na 082 736 5339 met jou naam en as verwysing: Leeskursus. Sy sal dan met jou kontak maak.
Kursusgangers was baie entoesiasties oor die kursus.
'n Groep van 28 belangstellendes het die Nal'ibali-leesprogram by die NG Moedergemeente bygewoon.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'