Gallery Video
MOSSEL BAY NEWS & VIDEO - Volgens Ali Sablat van die rampverligtingsorganisasie Gift of the Givers, is die landbou in Suid-Afrika in 'n krisis met oproepe om hulp wat hul organisasie toenemend van regoor die ganse land bereik.
Sedert 2015 het die droogte sy wurggreep op boere in die groter Mosselbaai-area verstewig. Damme, veral in die Herbertsdale-omgewing maar ook elders in die groter Mosselbaai is leeg en riviere wat altyddeur maar die lewensaar was, het lankal opgedroog.
Op Die Vlakte buite Herbertsdale in die Cooper-omgewing is talle boere vir wie elke druppel reën 'n seën is, mense wat soggens opstaan met die hoop dat dit volgende week tóg sal reën.
Dit is ook mense wat nie maar agteroorsit en wag op hulp nie. Een van die boere, Jasper van der Westhuizen het derduisende rand aan oproepkostes die afgelope paar dae aangegaan om hulpleniging vir die boere van dié omgewing te bewerkstellig en te koördineer.
"Dis nou drie jaar dat die droogte net feller word. Gelukkig het nog nie een van die boere in ons omgewing enige werkers afgelê nie. Ons kan vandag werklik net dankie sê vir almal wat 'n hand uitsteek het om te help," sê 'n nederige Van der Westhuizen toe die Mossel Bay Advertiser hom na boerdery-omstandighede in die area uitvra.
Filosofies
Hy is vol lof, dog ietwat filosofies oor die lewe van 'n boer. "My pa sê altyd die lewe van 'n boer is die lewe van weer begin."
"Die droogtehulp gaan nie oor die boer nie, dit gaan oor die skape, beeste of volstruise wat honger is. 'n Merino-ooi eet sowat vier kilogram kos per dag net om te oorleef. Een baal veevoer is kos genoeg vir 80 ooie per dag. Hier op Die Vlakte is 12 boerderye met sowat 8 000 tot 10 000 skape, sowat 1 000 beeste en 1 400 volstruise, dis kuddes wat in stand gehou moet word net om die boerdery te laat oorleef. Ons is produsente, ons moet aan markte lewer."
Die trokke met droogtehulp het sowat 36 tot 38 bale sojabale vervoer, twee vragte daarvan het die boere self aangekoop, soos ook die mielies wat uit hul eie sakke befonds is. Die Gift of the Givers het die bale gratis tot op Die Vlakte, Voëlvlei en Vleesbaai vervoer.
Kyk 'n video hieronder:
"Ons is veral dankbaar teenoor Louise van Rensburg, 'n vrou van Pretoria wat besluit het dat sy boere met droogtehulp wil help. Sy het skenkings by boere in die Leandra-omgewing gewerf. Ons is ook daardie boere dank verskuldig. Die veevoer wat hulle vir ons diere afgestaan het, kon waarskynlik op hul eie plase ook goed aangewend gewees het.
"Gift of the Givers het onmiddellik op ons versoeke vir hulp met die vervoer van die voer reageer en vandag kan ons werklik net dankie sê."
Verligting
Moekie Afrikaner boer onder meer met volstruise en verwag juis hierdie week 'n besending jong kuikens. Haar oë skiet vol trane toe sy praat van die verligting wat die geskenkte veevoer meebring.
"Benewens die veevoer is die beskikbaarheid van drinkwater vir ons diere 'n groot uitdaging. Ons ry daagliks water aan, reeds vir die afgelope 18 maande, want daar is net nie water nie."
Sy praat van die groot verliese aan lammers wanneer die ooie nie genoeg kos kry en die lammers kan voed nie. Soos die talle ander boere, stel sy haar geloof en hoop in die Hemelse Vader en hoop op uitkoms vir die droogte.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die speaker van die raad, raadsheer Petru Terblanche, bedank die personeel van Gift of the Givers wat verseker het dat die veevoer veilig tot op Mosselbaai en omstreke gebring is. Foto's: Nickey le Roux
Benewens die boere van Die Vlakte, het boere in die Vleesbaai-omgewing ook baat gevind by die skenkings wat vandeesweek afgelewer is.
Een van die werkers van Gift of the Givers wat hom net as Jasper bekendgestel het, vertel opgewonde hoe gelukkig hy is om telkens 'n verskil te kan maak in die lewens van diegene in nood. "Ons was maande lank in Knysna na die brande om hulp te verleen, ons was Mosambiek toe om te gaan help, ons het boere in Sutherland en elders gehelp, ons help waar ons kan."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'