MOSSELBAAI NUUS - Môre, Saterdag 31 Oktober gooi die Harry Giddey-park sy besonderse hekke wyd oop wanneer die eerste "mark in die park" aangebied sal word.
Die mark is deel van die Mosselbaai-munisipaliteit se inisiatiewe om die plaaslike ekonomie te stimuleer.
Die park bied 'n unieke atmosfeer met reuse skadubome, ruim grasperke vir 'n piekniek en wandelpaadjies vir oud en jonk om die omgewing te geniet. Natuurlik is daar ook die park se dierelewe wat besigtig kan word.
Die ouer garde wat in en rondom Mosselbaai grootgeword het, vertel dat hulle ouers hul as kinders, dikwels tydens inkopie-ekspedisies in die park gelos het om daar te kan speel terwyl ma en pa hul sake doen.
Die sowat 40 stalletjies bied 'n groot verskeidenheid ware onder meer kuns, handgemaakte items uit hout, leer en selfs klere vanuit Thailand. Aan te ete sal daar geen tekort wees nie. Die jongklomp sal hulle gate uit geniet om die springkasteel en dalk self vir Oupa en Ouma sover kry om 'n prettige foto by die spesiale photo booth te laat neem.
'n Groot selfoonmaatskappy gaan boonop promosionele geskenkies uitdeel.
Om verder te sorg vir 'n feestelike atmosfeer tydens die mark, hou MOKKA (Mosselbaai Kreatiewe Kultuurassosiasie) weer een van hulle gewilde Open Mic-geleenthede in die park terwyl die mark aan die gang is. Vir drama, dans, sang en musiek deur Mosselbaai se bestes, staan gerus vanaf 10:00 nader vir die vermaaklikheidsprogram.
Die mark begin reeds 09:00. Vermaak en handel sal tot 15:00 voortduur.
Wie was Harry Giddey?
'n Onlangse inskrywing op die sosialemediablad van Erfenis Mosselbaai, geneem uit bestaande plaaslike bronne, vertel 'n bietjie meer oor die man na wie Mosselbaai se oudste en gunsteling park vernoem is.
Harry Giddey was 'n gerekende sakeman in Mosselbaai, maar was ook bekend vir sy intense belangstelling in landskapering en tuinbou.
Sy huis bekend as Gewels in Georgeweg, is deur die befaamde Engelse arigtek, Herbert Baker ontwerp en in 1916 gebou.
Giddey het groot belangstelling in die park, destyds ook munisipale grond, gehad. Vanweë sy belangstelling, was hy verantwoordelik vir baie van die park se besonderse landmerke, klipwerk en paadjies wat vandag nog te siene is.
Die park was vroeër jare bekend as die Queen Victoria Park. In 1959, is dit hervernoem na Harry Giddey om sy nalatenskap te gedenk. Giddey is in 1962 oorlede. Beide hy en sy vrou het hul laaste rusplek in die ou begraafplaas by die Punt gevind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'