Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Skrywer en kenner van plaaslike geskiedenis, Charles Theunissen het beslis nie net sy rugbyfeite agtermekaar nie. Dié kêrel is boonop 'n kranige kitaarspeler.
'n Video wat op sosiale media versprei is waarin Theunissen saam met deurwinterde musikante David Daniels en Deon Kleynhans laat 1960's musiek maak, laat behoorlik die voete jeuk.
Theunissen het in 1975 volstoom met sy musiekloopbaan begin.
Daniels, 'n uitstekende kitaarspeler is op Mosselbaai gebore en Kleynhans is 'n puik sanger wat voorheen vir die bekende groep Restless Children van Worcester gesing het.
Toe dié drie musikante se klanke bymekaarkom, word die resultaat ten beste in Theunissen se woorde beskryf: "Die musiekvideo vertel 'n storie."
Volgens Theunissen het Daniels en Kleynhans talle ander musikante deur die verloop van hul lewens geïnspireer.
Kleynhans is in sy laat 60s, maar het steeds sy besonderse trefkrag wat sang betref en Daniels, al in die 70 speel nog steeds kitaar met sy passievolle aanslag.
"My droom is om by die volgende jazzfees op Mosselbaai saam met hierdie twee manne te kan speel," bieg Theunissen.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'