Update Video
MOSSELBAAI NUUS - Die graderingsagentskap Ratings Afrika het pas die resultate van sy munisipale finansiële volhoubaarheidsindeks (MFSI ™) vir die Wes-Kaapse munisipaliteite vir die finansële jaar geëindig Junie 2019 bekend gemaak. Die MFSI ™ gebruik 'n puntemodel om die finansiële vermoë te bepaal van 'n munisipaliteit om die infrastruktuur te ontwikkel en in stand te hou.
Dit bepaal ook of die munisipaliteit kan voorsien in dit wat nodig is vir dienslewering sonder om onbeplande verhogings, heffings of tariewe in te stel of gehalte van dienste wat gelewer word te verswak.
Die munisipaliteit moet ook oor die nodige reserwes beskik om finansiële skokke wat deur natuurlike, ekonomiese of ander rampe veroorsaak is, te absorbeer sonder eksterne finansiële hulp.
In die ontleding van die finansiële state en ander statistieke het Ratings Afrika weer die die munisipaliteit se prestasie in ses komponente gemeet; die bedryfsprestasie, likiditeit, skuldbestuur of leningsvlak, begrotingsposisie, bekostigbaarheid en die ontwikkeling van infrastruktuur.
"Die tellings wat Mosselbaai vir hierdie komponente behaal het, is gelyk aan of beter as die gemiddeldes vir die Wes-Kaap. Die belangrikste is dat die totale finansiële volhoubaarheidsgraad van 76 uit 100 wat deur Mosselbaai behaal is, die hoogste in die Wes-Kaap is. Die telling van 76 is ver bo die gemiddelde van 60 vir die Wes-Kaapse munisipaliteite.
"Mosselbaai-munisipaliteit het nog altyd hoë punte in Ratings Afrika se graderings behaal. Dit weerspieël gesonde langtermyn-ontwikkelingsbeplanning, finansiële bestuursbeleide en dissipline deur die leierskorps van die munisipaliteit. Die hoë telling wat Mosselbaai-munisipaliteit behaal het, beteken in die praktyk dat die munisipaliteit die finansiële vermoë het om hoë diensvlakke aan die inwoners van Mosselbaai te lewer," aldus Leon Claassen van Ratings Afrika.
Kyk 'n video hieronder:
Die natuurlike skoonheid van Mosselbaai, tesame met sy wêreldklas-munisipale infrastruktuur en dienste, maak dit die voor die hand liggende keuse as bestemming vir toeriste, aftrede, sake en beleggings. Die onlangse gasontdekking, langs die kus, dra by tot die mengsel. Internasionale ondernemings word na Mosselbaai gelok.
"Mosselbaai-munisipaliteit het verskeie stappe gedoen en verskeie maatreëls ingestel om goeie bestuur te verseker. Dit sluit 'n langtermyn strategiese finansiële plan in om finansiële volhoubaarheid te verseker. Streng finansiële dissipline verseker dat hierdie langtermyn-strategiese finansiële plan nagekom word. Ons het verskeie maatreëls teen bedrog en teenkorrupsie ingestel. Ons is gelukkig om goeie leierskap te hê met politieke sowel as administratiewe stabiliteit," het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal tydens 'n mediabekendstelling gesê.
Hennie le Roux (finansies), raadslid Mark Furness (finansieskomiteevoorsitter van die uitvoerende burgemeesterskomitee), raadsheer Harry Levendal (uitvoerende burgemeester) en adv Thys Giliomee (munisipale bestuurder). Foto: Jannie du Plessis
Verwante artikels:
- Despite Covid-19 Mossel Bay Municipality is open for investments
- Top scores for Mossel Bay Municipality
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'