MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaiteit het skriftelik reageer op 'n aantal gemeenskapskwessies wat sommige van die Groot-Brakriviergemeenskap, onder aanvoering van Icosa, te berde gebring het.
Dit volg nadat die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, op Vrydagmiddag, 4 Augustus 'n petisie van 'n groepie Icosa-ondersteuners ontvang het waarin op antwoorde op 'n aantal probleme aangedring is.
Een van die probleme wat genoem is, is die toestand waarin woonstelle in Nantes-, Murray- en Wessostraat verkeer.
Advokaat Giliomee het in sy skrywe aan Icosa te kenne gegee dat die woonstelle ingevolge 'n goedgekeurde begroting en volgens 'n onderhoudsplan in stand gehou word en dat 'n voorsieningskanaalproses gevolg moet word om 'n kontrakteur aan te stel.
Wat die eiendom in Wessostraat betref, is daarop gewys dat dit in privaatbesit is en dat enige opgradering en of instandhouding dus deur die wettige eienaar gedoen moet word.
Icosa is ook daarop gewys dat die inwoners van Greenhaven en Groot-Brakrivier deur openbare vergaderings geleentheid gegun is om insette te lewer oor die toekomstige gebruik van Souwesia. Hierdie voorstelle, berig die uitvoerende beampte vir strategiese dienste in die kantoor van die munisipale bestuurder, mnr Colin Puren, sal binnekort aan die raad vir oorweging voorgelê word.
Eweneens wys die munisipaliteit Icosa daarop dat die privaateiendomme in Wolwedans wat stormskade gely het, nie deur die plaaslike owerheid herstel kan word nie. Tog lewer die munisipaliteit noodlenigingshulp in die geval van storms, soos moontlik.
Mullerstraat
Daar word 'n proses tans gevolg om alternatiewe behuising vir sommige inwoners van Mullerstraat te oorweeg. Dié proses word deur die departement menslike nedersettings gedryf. Dit blyk dat die betrokke inwoners laat blyk het dat hulle nie met die voorgestelde nuwe strukture tevrede is nie en dat hulle op groter huise aandring. Die betrokke inwoners is ooreenkomstig ingelig dat groter huise nie moontlik is nie en die moontlike projek is voorlopig deur die departement menslike nedersettings gestop.
Dit blyk die ondergrondse dreinering wat geïnstalleer is om water weg te lei van die bestaande strukture is wel baie effektief.
Op versoek van die inwoners is hernude aansoeke deur die betrokke departement vir oorweging voorgelê en is die nodige tegniese verslae wel gelewer. Die munisipaliteit wag tans op 'n klinkklare antwoord vanaf die relevante departement oor die proses vorentoe.
Die gemeenskap is ook daarop gewys dat daar reeds op 29 Junie 'n skrywe deur die betrokke departement gerig is aan die Mayflower-krieketklub oor die opgradering van die sportgronde, maar dat die feit dat die sportgronde in 'n vloedvlakte geleë is, die opgradering daarvan bemoeilik.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'