Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyf-en-sestigjarige vrou van Hartenbos Heuwels het vandeesweek voor die hof verskyn op 'n aanklag van moord nadat sy glo haar 67-jarige man op Moedersdag, Sondag, 13 Mei 'n noodlottige meswond toegedien het.
Die paartjie, wat 48 jaar getroud is en glo vier jaar gelede na hul aftrede in die omgewing hervestig het, het volgens inligting vroeër die dag gaan uiteet by die Punt waarna hulle na hul woonstel in Essenhoutlaan teruggekeer het.
'n Onderonsie het na bewering tussen die twee ontstaan, waarna die vrou, Sara van Aswegen 'n kombuismes geneem en haar man, Willem omstreeks 15:00 waar hy glo in die slaapkamer op die bed gelê het, in die bors gesteek.
Sy het na die voorval glo op die woonstel se stoep gaan sit.
Van Aswegen het daarin geslaag om tot by die buurman te gaan en het glo gevra dat die man hom hospitaal toe neem. Die buurman het Van Aswegen na ongevalle van die Life Bay View privaat hospitaal geneem. Van Aswegen het egter hier aan sy wond beswyk.
"Ek het geen idee wat daar aangegaan het nie. Ek het die man hospitaal toe gevat. Dis al," het die buurman, wat geen verdere kommentaar wou lewer nie, vandeesweek by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die Van Aswegens se enigste kind en dogter, het vandeesweek uit Gauteng gereis om haar ma te kom bystaan.
Sara van Aswegen is sedert haar in hegtenisname Sondagmiddag in die Da Gamaskop-polisie se selle aangehou. Sy het op Dinsdag, 15 Mei voor die hof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat.
Haar volgende hofverskyning is op 19 Junie.
Die ondersoekbeampte in die saak is sers Sonja du Plessis van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'