Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "Om met kanker gediagnoseer te word, is nie noodwendig 'n doodsvonnis nie," aldus die geleentheidspreker Jannine Frost wat aan 'n groot groep besoekers en pasiënte Donderdagoggend by die Alma Kliniek in Adriaansweg, Mosselbaai die noodsaak vir selfondersoek verduidelik het.
"Wanneer kanker in 'n vroeë stadium opgespoor word, is die behandeling gewoonlik nie baie ingrypend nie. Daarom moet mans en vroue gereeld, selfs elke oggend, self hul borste ondersoek. Dit is wanneer kanker versprei dat die behandeling meer omvattend en ingrypend word."
Die gehoor was verras om te hoor dat mans ook met borskanker gediagnoseer kan word. 'n Beroep is gedoen dat vroue sal seker maak dat hul mans die nodige toetse ondergaan, ook om ander vorms van kanker vroeg te kan opspoor.
Die operasionele bestuurder, Sr Roseline Arends, het die gehoor herinner dat kanker geen onderskeid tref tussen geslag of ouderdom nie. "Dit is ook nie net diegene met 'n familiegeskiedenis van kanker wat meer geredelik daarmee gediagnoseer word nie. Doen die toetse, heelwat daarvan is gratis."
'n Kort opvoering deur Jo-Anne Elder en Seline Steyn het prakties aan die gehoor die prosesse verduidelik wat volg wanneer 'n pasiënt 'n dokter oor 'n knop in die bors sou gaan spreek. Hierdie demonstrasie het heelwat belangstelling uitgelok.
'n Jong vrou wat kanker oorleef het, Sadiya Moerat het haar ervaring met borskanker op 'n baie positiewe wyse oorgedra en weer eens bevesig dat 'n diagnose met kanker nie noodwendig negatief is nie.
Hoewel sy haar bors verloor het, het sy blymoedig vertel van die ondersteuning wat sy by die Alma Kliniek en die kankereenheid op George ervaar. "Ek het 'n nuwe benadering tot die lewe. Ek is 'n jong ma met 'n baie jong kind en ek benader elke dag nou met soveel meer lewensvreugde."
Kyk video's hieronder.
Die personeel van die Alma Kliniek in Adriaansweg wat Donderdag, 18 Oktober 'n baie suksesvolle borskankerbewustheidsprojek van stapel gestuur het. By hulle is die geleentheidspreker, Jannine Frost (voor, derde van links).Foto: Nickey le Roux
Die operasionele bestuurder van die Alma Kliniek, Sr Roseline Arends (tweede van links) en die geleentheidspreker, Jannine Frost (tweede van regs) saam met kaste wat die borskankerbewustheidsbyeenkoms bygewoon het.Foto: Nickey le Roux
Jo-Anne Elder en Seline Steyn het met 'n praktiese demonstrasie geïllustreer watter stappe volg nadat 'n persoon 'n knop in 'n bors ontdek het. Foto: Nickey le Roux
Lees 'n vorige artikel: Borskanker kan mans ook tref
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'