MOSSEL BAY NEWS - Een van Mosselbaai se grootste geeste het ons gegroet. Daar is bitter min mense wat nie op een of ander manier deur hierdie man aangeraak is nie.
Letterlik.
Tientalle wat hierdie artikel lees, is deur hom in die wêreld gebring. Iets wat min mense weet, is dat hy nie net gewone mense se lewens gered het gedurende sy jare as dokter nie, maar dat hy selfs een van hierdie land se presidente se lewe gered het. Altyd in stille nederigheid.
Terry Grobbelaar is gebore op 25 November 1940 as kind van Suid-Afrika se eerste ongevalle kommissaris.
Hy matrikuleer aan Affies en is toe vloot toe. Sy mediese graad verwerf hy aan Tuks en begin praktiseer op die Vrystaatse platteland.
In 1967, begin Dok Terry 'n praktyk in Groot-Brakrivier waar hy sommer ook tandarts, sielkundige en soms selfs veearts was.
Dok het dikwels met smaak vertel hoe hy na veral die armes se tande moes omsien.
"Dit was veral moeilik om die Karoo-mense se tanne te trek - jong, hulle tanne het gesit," het hy vertel.
Dok Terry het wel sy feëverhaal werklikheid gemaak. Hy het toevallig saam met die legendariese Koos Wol (Koos van Rensburg) 'n vissersboot in Nederland gaan haal en het teruggekom met sy bruid, Rita met wie hy 27 jaar, gelukkig getroud was.
'n Hart vir mense
Dok Terry dien die gemeenskap vir baie jare. Veral vanuit die bekende praktyk aan die onderent van Parkside-wes tot en met sy eerste aftrede. Hierna het hy 'n bekende oesterkonsessie vir 'n paar jaar bedryf.
Naastediens was egter na aan sy hart en hy het later die praktyk gekoop wat steeds onderkant die taxi-staanplek geleë is.
"Ek moet produktief bly," was hy van mening.
Dit is 'n bekende feit dat dit sinneloos was om 'n afspraak by Dok Terry te maak, bloot omdat hy daagliks só oorval is met pasiënte dat hy tientalle moes wegwys.
Jy daag op, gee jou naam, en wag 'n klein rukkie. Sy groot, maar altyd sag en liefdevolle hande het genees waar hulle aangeraak het.
Menige het getuig dat hulle nie eens geweet het hy spuit hulle in nie. Sou 'n mens hom daaroor uitvra, was sy antwoord: "Ek doen dit met liefde en omgee, ek weet nie hoe die ander dit doen nie."
Hy was van die ou soort dokters wat sommer in jou oë kon kyk om te weet wat jou makeer. Sy pasiënte kan getuig dat hulle, nog voor hulle uitgestap het, al klaar beter gevoel het, want hy kon met sy hart met jou praat.
Self in IsiXhosa, wat hy later goed kon praat. Die derduisende wat dit nie kon bekostig om te betaal nie en gratis behandel is, is altyd in verbasing daar weg.
"Geld is nie alles in hierdie wêreld nie, ek is só lief vir hierdie mensies," sou hy sê.
Veelsydig en getrou
Dok Terry was nie net dokter, en nog meer, geneesheer nie. Hy was ook amateur-paleontoloog en -argeoloog; 'n meesterkenner van die menslike variëteit, ervare hengelaar; duiker; voël-, veld- en dierekenner, asook sportman.
Bekwame muurbalspeler, gholfman en swemmer. Baie sal onthou hoe hy tot onlangs toe nog gereeld elke oggend met sonopkoms sy 50 hale in die bekende Puntpoele geswem het, winter of somer.
'n Ervare jagter, met 'n passievolle liefde vir veral die Botswana-bos, die eerste beach buggy-ontwerper en van vroeg af filatelis met later 'n uitgebreide seëlversameling. As amateur-meubelmaker het hy 'n besonderse kennis van inheemse bome gehad.
As 'n groot vriend van die skilder, Klaerhout, het hy 'n fyn oog en oor vir detail in die kleinste kunswerk of musiekstuk gehad. Hy was 'n wynkenner soos min. Later het hy as numismatikus 'n uitgebreide versameling munte gehad wat op 'n tydstip onder andere die bekende 1931-tiekie ingesluit het.
Sy passievolle liefde vir sy gesin, sy vriende, die natuur, mense, die lewe, die Blou Dam, geneeskunde was aansteeklik. Sy besonder perfeksionistiese eienskappe en voorbeeld dien steeds as aanmoediging om altyd beter te presteer.
Meer nog - Dok Terry was 'n vriend soos 'n vriend moet wees: getrou. 'n Pa soos 'n pa moet wees: getrou. 'n Man soos 'n man moet wees: getrou. 'n Dokter soos 'n dokter moet wees: getrou.
Hy was die sagte mens wat hy was, omdat hy iets in hom gehad het wat min mense deesdae het: 'n erekode dat jy hier is, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.
Honour of Ubuntu, geskoei op die beginsel, ek kan net volledig wees as jy is. Sy onbaatsugtige diens getuig hiervan.
Sy woord was soms hard ("...wie is die dokter hier, ek of jy?") maar altyd sy eer. As hy gesê het hy doen 'n ding, dan doen hy dit dadelik en pligsgetrou.
Mosselbaai het inderdaad een van sy mees geliefde, gesiene en besonderse seuns verloor. Dok Terry was 'n voorbeeld wat met reg nagevolg kan word. Hamba gathle Morena.
Terry Grobbelaar word oorleef deur sy geliefde eggenoot Rita, seuns Chris, Tertius en Pierre en dogter Theresa. En deur 'n groot deel van 'n gemeenskap in rou.
Daar is vandag, 22 September om 13:00 'n gedenkdiens vir dr Grobbelaar in die NG Moedergemeente, Mosselbaai.
Lees 'n vorige artikel: Man met die hart van goud groet
ARTIKEL: HYNN MUNRO, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'