Update
GROOTBRAK NUUS - 'n Sewe-en-dertigjarige man is agter tralies, 'n week nadat die polisie 'n massiewe soektog na hom geloods het.
Die verdagte se arrestasie volg nadat 'n inwoner van George ontvoer is en in 'n veld naby Groot-Brakrivier verkrag, verwurg en vir dood agtergelaat is. Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie sê die verdagte het op 29 Augustus 'n 43-jarige vrou in Heather Park ontvoer.
Die slagoffer wou na bewering dwelms by die verdagte koop en het hom by 'n vulstasie in Heather Park ontmoet. Die verdagte het egter aan die slagoffer gesê dat sy by sy huis in Pacaltsdorp dwelms kan koop en het aangedring om haar rooi Volkswagen-voertuig daarheen te bestuur.
Hy het glo aan haar gesê dat dit minder verdag sal lyk as hy haar voertuig in die woonbuurt bestuur.
Die verdagte het egter in die rigting van Groot-Brakrivier gery waar hy naby die plaas, Buffelsdrift, die slagoffer aangeval het. Sy is verskeie kere verkrag en toe met 'n tou gewurg. Die verdagte het haar vir dood agtergelaat en met haar voertuig weggejaag. Die slagoffer kon daarin slaag om na die pad te kruip waar 'n motoris haar gehelp het.
Pojie sê 'n op en wakker inwoner van George het die verdagte Vrydag in Heather Park herken nadat die polisie 'n gesigsamestelling van die man versprei het.
Die verdagte is in hegtenis geneem en het op Maandag, 11 September in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, diefstal van motorvoertuig en vier aanklagte van verkragting.
Die verdagte verskyn weer vandag, Vrydag, 15 September in die Mosselbaai-landdroshof vir 'n borgaansoek. Pojie sê ondersoekbeamptes in die saak sal die borgaansoek teenstaan.
Lees 'n vorige artikel: Man agter tralies na verkragting
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brak, Tuinroete nuus'