TUINROETE NUUS - ‘n 37-jarige man is agter tralies, 'n week nadat die polisie 'n massiewe soektog na hom geloods het.
Die verdagte se arrestasie volg nadat ‘n inwoner van George ontvoer is en in ‘n veld naby Groot-Brakrivier verkrag is, verwurg is en vir die dood agter gelaat is.
Die Suid-Kaap Polisiewoordvoerder, Kaptein Malcolm Pojie sê die verdagte het op 29 Augustus 'n 43-jarige vrou in Heather Park ontvoer.
Die slagoffer wou na bewering dwelms by die verdagte koop en het hom by ‘n vulstasie ontmoet.
Die verdagte het egter aan die slagoffer gesê dat sy by sy huis in Pacaltsdorp dwelms kan koop en het aangedring om haar voertuig daarheen te bestuur.
Hy het egter in die rigting van Groot Brakrivier gery waar hy die slagoffer aangeval het, verskeie kere verkrag het en haar met ‘n tou in ‘n veld gewurg het. Die verdagte het met haar voertuig weggejaag.
Pojie sê 'n op-en-wakker inwoner van George het die verdagte Vrydag in Heather Park herken nadat polisie foto’s van die man versprei het.
Die verdagte is in hegtenis geneem en sal vandag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, diefstal van motorvoertuig en vier aanklagte van verkragting.
Lees 'n vorige artikel: Alleged rapist on the loose
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'