MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyf-en-veertigjarige man van Mosselbaai is tot twee jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy 'n deposito ontvang het vir die maak en installeer van kaste wat hy nooit gedoen het nie.
Volgens inligting ontvang van die Da Gamaskop-polisie, het die man Daniël Johannes Koch en sy 49-jarige vrou in 2012 'n kwotasie gegee aan 'n kliënt in Geelhoutlaan, Hartenbos Heuwels.
Die paartjie het geëis dat nadat die kwotasie aanvaar is, die kliënt 'n 60% deposito moes betaal voor hulle met die werk sou begin. Die kliënt het 'n bedrag van R12 870 betaal, maar die werk is nooit begin nie.
Na 'n lang hofgeding, is die beskuldigde op 2 Mei in die Mosselbaai-landdroshof gevangenisstraf opgelê.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao Marizaan du Plessis van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
"Ons maan die gemeenskap weer eens om uiters bedag te wees tydens transaksies waar deposito's vir werk of produkte geëis word. Maak seker dat die verskaffer betroubaar is. Vra vir en gaan verwysings deeglik na," waarsku kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'