MOSSELBAAI NUUS - Een van Herbertsdale se mees kleurvolle persoonlikhede, sal nie weer dié dorpie met sy teenwoordigheid ophelder nie.
Lorenzo Arendse (31) is op Donderdag, 5 Mei oorlede.
Lorenzo was destyds een van die wenners in die ope kategorie van Mossel Bay's Got Talent.
Hy het in 2013 die prysgeld in die ope kategorie met die plaaslik bekende kletsrymer, Andile Citashe gedeel. Arendse was tot op hede, een van die enigste kunstenaars wat dapper genoeg was om toneelspel aan te pak om die prys in te palm.
Hy het die beoordeelaars destyds beïndruk met sy skreeusnaakse komiese toneelspel. Lorenzo het 'n besonder natuurlike aanvoeling vir komedie gehad.
Lorenzo het in 2012 'n ses maande-kursus in musikale teater aan die Rainbow Academy in Kaapstad voltooi. Hierdie nie-winsgewende organisasie bied opleiding in verskeie fasette van die uitvoerende kunste.
Enigste kind
Lorenzo was sy ma, Estelle Dire se enigste kind. Sy het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat Lorenzo sy stryd teen tuberkulose verloor het.
"Hy het sy las moedig gedra. Jy kon dit nie op sy gesig sien nie. Hy was die vriendelikste mens gewees."
Sy noem dat haar seun in murg en been 'n toneelspeler was. Ten spyte van sy dagtaak, het hy nooit geskroom om die Herbertsdalers te vermaak nie. Hy was ook bedrywig op sosialemediaplatforms soos TikTok waarvoor hy videos gemaak het.
"Hy is nie 'n kind wat hom gesteur het aan ander nie en hy het nooit ophou droom oor die teater nie."
Sy ouma Katie Arendse, aan wie hy besonder na was, is nou 83 en dwalend na haar kleinseun se dood.
"Hy het sy laaste twee aande by ouma geslaap. Sy moes ook altyd oral saamgaan as hy optree."
Estelle sê dat sy haar seun ongelooflik baie mis.
"Ek hoor hom hier in die huis dan praat ek met hom en sê 'Nou's jy uit Mammie se hande en ek wou eintlik voor jou gaan'. Ek berus my egter. Hy is op 'n beter plek."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'