Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die eerste blinde navigatorstydren vir Mosselbaai het Saterdag, 1 April, by die Hart & Bosch Village net buite Hartenbos plaasgevind.
Deelnemers het om 10:00 weggespring op 'n onbekende roete van ongeveer 100km op openbare paaie in die Mosselbaai-omgewing met bestuurders agter die stuur van gewone privaat voertuie en elkeen met 'n blinde navigator in die passasierssitplek.
FOTOGALERY: Eerste blinde navigatorstydren vir Mosselbaai
Die navigators het met 'n braille-roeteskedule die bestuurders op hoogte gehou van die spoed en ligging om die eindpunt te bereik.
Vir meeste van die bestuurders en blinde navigators was dit 'n eerste en 'n hele paar het van die kontrolepunte gemis terwyl sommige langs die pad verdwaal het.
Die roete was 'n geheim en bestuurders en navigators het enkele minute voor hul vertrek eers die dokumentasie en tydhorlosies ontvang.
"Die tydren bied geleentheid aan die publiek om meer te leer oor die vaardighede en vermoëns van gesiggestremdes," vertel David Jacobs, een van die St Blaize Lionsklub se organiseerders van die tydren. Die St Blaize Lionsklub het hierdie geleentheid vanjaar vir die eerste keer na die Tuinroete, met Mosselbaai as gasdorp gebring.
Die atmosfeer die oggend voor die tydren was feestelik. Min was bekend oor wat die dag alles sal behels. Verskeie plaaslike gesiggestremde persone en 'n bussie vol van die Kaap, was die kern waarom die dag gehou is. Elke span van twee, dit is die drywer en navigator, moes met die braille inligting, wat deur die navigator aan die bestuurder gegee is, die roete volg. By 10 kontrolepunte is die tyd gelees en dan is punte vir elke sekonde laat of te vroeg, afgetrek.
Die finale punte word dan volgens tyd bepaal en die wat die minste tyd verloor het oor die afstand, word dan as wenners aangewys.
Die eerste posisie is ingeneem deur navigator Ivaan Levendal met sy bestuurder Ronan Sanderson. Tweede was Dries Burger met Eckhard Kriebel as bestuurder.
In die derde plek het Marius Coetzee genavigeer met Andries Swanepoel as bestuurder van die voertuig. Ons aspirant tydrenbestuurder en burgemeester, Dirk Kotzé en sy blinde navigator, Herman Louw het agtste geëindig.
Roete
Die roete het die spanne geneem van die wegspring by Salt & Copper verby Riverside met die Gonnakraal-pad tot by die R328. Vandaar is afgedraai by Ruiterbos op die Haelkraal-pad tot by die T-aansluiting op die R328.
Daar is regs gedraai en weer by die Matjiesdrift-pad regs gedraai op die grondpad weer tot by die T-aansluiting op die R328.
By die R328 is regs gedraai en weer links op die R102.
Toe by die Monte Christo-kruising is daar regs gedraai in die rigting van Bnei Akiva-kampterrein en na die sirkel moes hulle om blou en geel dromme 'n U-draai maak tot by die R102 en links draai weer tot by Salt & Copper.
Saterdagaand, 1 April, is die prysuitdeling by die Mosselbaai-gholfklub gehou waar die uitslae en pryse tydens 'n ete bekend gemaak is.
"Die tydren was 'n groot sukses hoewel daar 'n paar was wat klein foute gemaak het," het André van der Nest, president van die St Blaize Lions aan die Mossel Bay Advertiser gesê ná die tydren. "Die volgende blinde navigatorstydren word tans weer beplan en gaan moontlik in George of weer in Mosselbaai plaasvind," sê hy.
Vorige artikel: Eerste blinde navigatorstydren suksesvol
VIDEO - Prysuitdelingsfunksie van die St Blaize Lions blinde navigatorstydren
VIDEO - St Blaize Lions blinde navigatorstydren
VIDEO - Die veiling van ses geskilderde bekers
VIDEO - Eerste blinde navigatorstydren vir Mosselbaai
VIDEO - Kyk hoe lyk ‘n gedeelte van die roete (Video: Jannie du Plessis).
Bestuurder John Housten saam met sy blinde navigator, Veronica Vosloo net voor hul vertrek op die onbekende roete. As voertuig nommer een was hulle die eerste wat instruksies ontvang het en hier lees Vosloo die eerste instruksies aan Housten op die braille-roeteskedule.
Rinette von Mollendorf met bestuurder Wentzel Barnard hier op die Matjiesdrif-pad. Foto's: Jannie du Plessis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’