Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Tien jaar gelede, het 'n lesersbrief by die redakteur van die Mossel Bay Advertiser beland. In die brief is 'n versoek gerig dat Mosselbaaiers hulle 5c-stukke na verskeie ondernemings moes neem, waar dit in handgemaakte spaarvarkies gegooi kon word.
Dít, was deel van die nederige begin van Leolan Academy, 'n sentrum vir kinders met spesiale behoeftes, soos Downsindroom en outismespektrum, waar 48 kinders en jeugdiges tans 'n liefdevolle, sorgsame heenkome vind.
Die sentrum het op 4 Junie 10 jaar oud geword en die mylpaal is op Vrydag, 3 Junie by die skool gevier.
FOTOGALERY: Leolan Academy, 'n sentrum vir kinders met spesiale behoeftes
'Walking by faith'
In Junie 2012 het Yolandi Botha, self die ouer van 'n seun met outismespektrum besluit om 'n sentrum te skep waar leerders met outismespektrum 'n heenkome kon vind. Haar eie hartseer storie, het 'n suksesverhaal geword.
"Ek het selfs 'n tattoeërmerk op my voet met die datum 4 Junie 2012 wat lees Walk in faith. Ons het baie gesukkel met skole vir my seun.
"My droom was om 'n plek te skep vir hulle wat nie vir hulself kan praat of baklei nie. Ek wou hulle mond wees."
Sy het by haar huis in Diasstrand se boonste verdieping begin en kort voor lank, het sy 'n deel van die kerkgebou van die destydse Mosselbaai AGS in Da Nova begin benut.
Van meet af aan, was Yolandi onbeskaamd bereid om die sentrum, sy werksaamhede en heel belangrikste, sy leerders met die gemeenskap te deel.
Haar storie het die internasionale gholfer, Louis Oosthuizen se verbeelding ook aangegryp.
"Ek weet nie eens hoe dit gebeur het nie, maar hulle is van Albertinia en my ouma woon ook daar," onthou Yolandi.
Hoe dit ookal sy, sedert 2013 het Leolan 'n tuiste in 'n huis wat aan die Oosthuizens behoort. In 2015, skenk hulle 'n broodnodige bus aan die skool en hulle ondersteun die skool steeds maandeliks finansieel.
"Hulle is wonderlike, wonderlike mense en kyk mooi na ons."
'n Pragtige verjaarsdagkoek is voorgesit. Die legkaartstukke verwys na outismespektrum.
'Ons is anders'
Yolandi plaas haar agt personeellede sentraal tot haar sukses. Hulle is Lisa Strauss, Jo-Ann Viviers, Janke Snyders, Leoni Jafta, Denica Botha, Merie Bekker, Nomonde Makana en Sphamandla Mahlati. Meeste van hulle is al jare, selfs van die begin af by Leolan betrokke.
"Ons skool is 'n bietjie anders. Eers het ons net outiste ingeneem omdat ek hulle verstaan. Daarna het die Downsindroom-kinders gekom en nou fokus ons op breë spektrum spesiale behoeftes. As jy nie kan sien, hoor, loop, verstaan, praat of enigiets anders nie, dan maak ons vir jou 'n plekkie."
Een van die leerders het hierdie kaartjie vir Louis en Nel-Marie Oosthuizen geteken.
Wat hulle vermag, meen Yolandi, met verwysing na kinders van wie gesê is dat hulle nooit sou kon praat nie en wat nou regte kekkelbekke is, is net danksy liefde, geduld en bo alles, genade.
"Ons gee die kinders letterlik soveel liefde as wat hulle kan vat," lag sy. En vir ouers wat dit nie breed het nie, maak sy altyd 'n plan, ten spyte van 'n lang waglys.
Kinders word tuis opgelaai en volg 'n aktiwiteitsprogram by die skool. Voedsame maaltye word verskaf, want "mens kan nie leer as jy honger is nie", meen Yolandi.
VIDEO - Leolan Akademie vier 10 jaar (Video: Jannie du Plessis).
Sy is opgewonde oor elke keer wanneer hulle 'n nuwe talent ontdek en dit gebeur soos die kinders se selfbeeld ontwikkel.
Leolan is bekend vir sy konserthouery oor die jare wat al vol sale getrek het.
"Ons kinders moet voel dat hulle spesiaal is, nie omdat hulle spesiale behoeftes het nie. Met die optredes ontwikkel hulle 'n selfbeeld wat skrik vir niks. Hulle voel uiteindelik of daar niks met hulle verkeerd is nie."
Hoogtepunte oor die afgelope 10 jaar, was daar te veel. En 'n onvergeetlike laagtepunt, die afsterwe van een van die leerders, David Rourke.
David is in 2018 oorlede. Hy is met Downsindroom gebore.
"Ek dink ons almal het toe eers waarlik besef hoe lief ons die kinders het. Dit was 'n onbeskryflike pyn, Ons het dit nou nog nie verwerk nie."
Yolandi sê dat solank as wat daar kinders met spesiale behoeftes is wat 'n veilige plekkie benodig, sy dit sal skep.
"Ons is oneindig dankbaar teenoor elke medewerker, donateur, borg, die gemeenskap. Dit bewys, liewe Jesus is baie goed vir ons."
Previous articles:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'