MOSSELBAAI NUUS - In 2019 het 'n groep vroue op Mosselbaai voorleesgroepe gestig om by kinders 'n lus vir lees aan te wakker. Intussen is reeds 13 voorleesgroepe op Mosselbaai en die omliggende omgewing gevestig. Daar is leesgroepe vir plaaskinders, vir kleuters op Wolwedans asook vir kinders in Asla Park, D'Almeida en Sonskynvallei.
Verskeie bereidwilligers het op Wêrelddag vir Hardop Lees, Woensdag, 5 Februarie vir leerders by skole aan die Tuinroete gaan voorlees.
'n Onlangse studie het getoon dat tot 78% van alle graad 4-leerders nie met begrip in hul moedertaal kan lees nie, en daarom is Nal'Bali begin. Nal'Bali is 'n interaktiewe leesprogram wat voorlesers toerus om op 'n maklike en sinvolle manier saam met kinders te lees om hulle volle potensiaal deur stories en boeke te ontsluit.
Nal'ibali is 'n isiXhosa woord vir "hier is 'n storie" en dit is 'n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat in 2012 geïnisieer is.
Sedert 2017 het die diensgroep Diaconia, 'n eenheidsbediening waar die NG kerk en die VG kerk sedert 2018 hande vat, in 'n samewerkingsooreenkoms met Nal'ibali gegaan om gemeentes te help om meer aktief by vroeë kinderontwikkeling betrokke te raak. 'n Groep van 28 belangstellendes het 'n kursus by die NG Moedergemeente bygewoon met die oog daarop om in die wyer Mosselbaai-area leesgroepies in gemeenskappe te vestig.
'n Vrywilliger lees hardop vir kinders in Aslapark.
Hoewel dit 'n inisiatief van die NG kerk is, word geen een uitgesluit wat sou aandui dat hulle by die program betrokke sou wou raak nie.
Mosselbaaier, Ena Loubser daar word beoog om leesgroepe by speelskole, kleuterskole, biblioteke en selfs hoërskole te begin.
Die kursus kan ook in Engels aangebied word. Omdat alle taalgroepe by die program kan baat, word ook persone wat Xhosa magtig is, aangemoedig om dit by te woon en die opleiding te ondergaan. Leesstof is beskikbaar in Afrikaans, Engels en Xhosa. Enigeen wat hierin sou belangstel, word genooi om kontak te maak met Ena (082 736 5339).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'