MOSSELBAAI NUUS - Die verlies van agt inwoners aan Covid-19 verwante oorsake by Benevolent Park, is nie die enigste ding wat inwoners, personeel en lede van die gemeenskap dwars in die krop steek nie.
Na aanleiding van 'n artikel wat in verlede week se Mossel Bay Advertiser verskyn het, meen verskeie partye dat hulle ontevrede is oor hoe die virus by die tehuis hanteer is.
In die artikel, doen die beheerraad oorsigtelik hieroor verslag.
Klagtes
Van die inwoners en personeel se klagtes sluit in dat die siekeboeg nie goed genoeg ingerig was om Covid-19-pasiënte te behandel nie. Ook dat siekes en gesondes nie suksesvol geskei kon word nie. "Hulle is ingehok soos hoenders," het 'n inwoner aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Verdere klagtes sluit in dat die personeel wat siek pasiënte moes versorg, nie die nodige beskermende drag aangehad het nie. Ook word beweer dat hierdie toerusting eers nadat daar siekes en selfs sterfgevalle was, ontvang is. Tot 16 van die personeel, was na bewering vanweë Covid-19 in die PetroSA-fasiliteit onder kwarantyn geplaas. "Daar was personeeltekorte en is casuals ingekry. Hoe weet ons of hulle virusvry was?" vra nog 'n inwoner. Personeel kla ook van aangepaste salarisse.
Een van die grootste dorings in die vlees blyk te wees dat inwoners en personeel voel dat die beheerraad nie genoeg steun aan hulle gebied het nie."Hulle kom nooit hier nie. Ons kry meer besoek en ondersteuning van mense soos die onderburgemeester as ons eie beheerraad.
Die Advertiser het versoek om navrae aan die beheerraad te rig en is hierop na die tehuis se bestuurder, Kitty Thiele verwys.
Kommentaar
Thiele het verduidelik dat die Covid-19-gebeurlikheidsplan in oorleg met die departement van sosiale ontwikkeling opgestel is. Die plan is aan die beheerraad voorgelê en planne is aangepas soos die inperkingsmaatreëls verslap is. "Ek het wyd advies ingewin en die nodige voorsorgmaatreëls streng toegepas."
Wat betref die inwoners se gevoel van ingehoktheid, het Thiele groot begrip. "Ek het baie nagelees oor isolation fatigue omdat my agtergrond maatskaplike werk is. Ek het gereeld inligtingsessies met die terrein-inwoners en die siekeboeg gehou." Thiele sê sy hou ook individuele gesprekke. Sedert van die siekeboegpasiënte afgesterf het, is beradingsessies deur kundiges aangebied.
"Danksy baie skenkings, is daar maskers en ontsmettingsmiddels aan inwoners uitgedeel om vrylik te gebruik."
Die personeel het gesigskerms ontvang. Sy noem dat "dit 'n konstante opleidingsproses was" om die personeel te sensiteer.
Wat betref die beskermende drag, erken Thiele dat dit 'n gesukkel was om die korrektes te bekom. "As jy infeksiebeheer doen in 'n siekeboeg het jy standaard toerusting, maar nie daardie 'pakkies' nie. Ons het 'n paar weggooibares by die department van gesondheid gekry. Die wat ons nou uit ons eie sakke gekoop het, is redelik duur en word hier agtergelaat waar dit ontsmet word."
Wat die personeel onder kwarantyn betref, sê Thiele dat nie almal in dieselfde afdelings gewerk het nie en boonop was nie almal op dieselfde tyd siek gewees nie. "Daar was hoogstens drie op 'n slag siek." Salarisaanpassings is ook waar van toepassing volgens die arbeidsprosedure reggestel, sê sy.
Aflospersoneel is wel gebruik, maar dit was almal mense wat al voorheen uitgehelp het. "Ons het ook van Procare gebruik gemaak."
Thiele sê dat hulle deur presies dieselfde prosesse as personeel is om seker te maak dat hulle nie die virus onder lede het nie.
Kommentaar oor die kwessies by Benevolent Park is ook aangevra vanaf die departement van gesondheidheid en word ingewag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'