MOSSELBAAI NUUS - Daar was sedert Woensdag reeds vyf gewapende rooftogte in KwaNonqaba op Mosselbaai.
Vier van die voorvalle is in die afgelope 48 uur aangemeld. Dit blyk dat veral spazawinkels deurloop.
Die mees onlangse voorval het gisteraand by die Sevens Shop in Adriaansrylaan plaasgevind. Volgens die polisie, het drie gewapende mans die winkel van minstens R8 000 kontant beroof en ook ‘n werknemer se selfoon gesteel.
Die rooftog volg kort op die hakke van nog ‘n voorval gisteroggend in Adriaansrylaan toe ‘n man en vrou wat 'n kontantleningsbesigheid bedryf, van duisende rand se kontant beroof is.
Die slagoffers het om 08:00 voor hul besigheid in Adriaansrylaan gestop toe hulle deur drie gewapende mans oorval is. Die verdagtes het die slagoffers met 9mm pistole gedreig en hulle op hul knieë gedwing. Die verdagtes het 'n sak met kontant en 'n skootrekenaar ter waarde van R15 000 by die slagoffers afgeneem en het toe te voet gevlug.
Woensdag is skote afgevuur en ‘n spazawinkel beroof en Vrydag is nog ‘n spazawinkel beroof, asook ‘n vragmotor wat brood vervoer.
In al die gevalle was die verdagtes met vuurwapens en messe gewapen.
Die polisie ondersoek die voorvalle.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'