MOSSELBAAI NUUS - 'n Man en vrou wat 'n kontantleningsbesigheid bedryf, is vanoggend op Mosselbaai van duisende rand se kontant beroof.
Die slagoffers het om 08:00 voor hul besigheid in Adriaansrylaan gestop toe hulle deur drie gewapende mans oorval is.
Die verdagtes het die slagoffers met 9mm pistole gedreig en hulle op hul knieë gedwing. Die verdagtes het 'n sak met kontant en 'n skootrekenaar ter waarde van R15 000 by die slagoffers afgeneem en het toe te voet gevlug.
Dit is die vierde gewapende roof in die KwaNonqaba-omgewing in slegs drie dae.
Woensdag is skote afgevuur en ‘n spazawinkel beroof en gister is nog ‘n spazawinkel beroof asook ‘n vragmotor wat brood vervoer.
In al die gevalle was die verdagtes met vuurwapens en messe gewapen. Die polisie ondersoek die voorvalle.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'