MOSSELBAAI NUUS - Inwoners en die beheerraad van Benevolent Park blyk steeds 'n harde pad te stap wat betref gemaklike en openlike kommunikasie.
Benevolent Park het op Dinsdag, 17 November hul algemene jaarvergadering gehou en 'n nuwe beheerraad sou tydens die geleentheid verkies word.
Die verkiesing kon vanweë afwesighede nie volgens die grondwetbepalings voortgaan nie.
'n Segsman, Abe Mitas, voorsitter van die inwonersvereniging, berig dat hulle voel asof die beheerraad afwesig en onbetrokke by die tehuis, sy inwoners en buitelede is.
Van hierdie opmerkings is reeds vroeër vanjaar tydens die strenger vlakke van die nasionale inperking gemaak, veral toe Covid-19 verwante sterftes by die tehuis plaasgevind het.
In 'n lys van griewe wat deur die inwoners opgestel en reeds vóór die algemene jaarvergadering aan die Mossel Bay Advertiser beskikbaar gemaak is, word veral melding gemaak van infrastruktuur by die tehuis wat stukkend is en nie herstel word nie. Dit sluit die elektriese omheining in wat luidens 'n griefskrif reeds 'n geruime tyd buite werking is.
"Daar was onlangs 'n inbraak in die administratiewe gebou en daar is nou 'n werkende sekuriteitstelsel geïnstalleer. Ons voel asof ons veiligheid nie van dieselfde belang geag word nie."
Verdere klagtes hou verband met die interkomstelsel asook paniekknoppies wat buite werking is en bly. "Die ouderdomme hier strek van 60 tot 96 jaar oud. Meer as 'n derde van ons is bo 80 en het hulp nodig om rond te beweeg, hetsy met loopringe of rolstoele. Ons help mekaar onderling, maar as daar 'n noodgeval ontstaan, hoe dan gemaak?" vra Mitas.
Ook die tehuis se kragopwekker is volgens Mitas buite werking en die watertenk wat in geval van nood reserwewater moet stoor, is in 'n jammerlike toestand. Volgens hom loop navrae oor die kwellinge op niks uit nie.
Hy sê ook dat die huurgelde in Junie verhoog is sonder dat die normale prosedure gevolg is. "Ons het slegs 'n briefie ontvang. Dit word altyd by wyse van onderhandeling met die inwoners bespreek."
Navrae
Die Advertiser het vrae na aanleiding van die griewe aan die beide die beheerraad asook die Wes-Kaapse departement van sosiale ontwikkeling vir kommentaar voorgehou. Esther Lewis, woordvoerder vir die departement het by navraag gesê dat die departement van die inwoners se klagtes kennis dra en in die proses is om dit met die beheerraad op te neem.
In hulle terugvoering op die griewe, het die beheerraad gesê dat daar volgens hulle, genoegsame kontak met die inwoners via die sentrumbestuurder bestaan en dat dit ook tydens die Covid-19-inperking die geval was. Toegang tot die tehuis word streng beheer en volgens die beheerraad het dit hulle bewegings, veral gedurende die strenger inperkingstyd in April en Mei, beperk.
Wat die verhoging van huurgeld betref, lui die terugvoering, dat dit vir lede van die beheerraad onmoontlik was om die tehuis op 'n daaglikse basis te besoek en vergaderings te hou. Gevolglik, was hulle genoop om geskrewe kennisgewings te gebruik.
Wat geassisteerde beweging betref, sê die beheerraad dat diegene wat hulp benodig oor hul eie hulpmiddels beskik en dat "veroudering 'n normale proses is".
Die paniekknoppies, wat glo 'n skenking was, is volgens die beheerraad 'n luukse en nie 'n noodsaaklikheid nie. Voorts meen hulle dat die alarmstelsel voortdurend herstel moet word en dat dit baie geld kos. Dit word oorweeg om die stelsel te vervang, mits die begroting toelaat.
Herstelwerk aan die elektriese omheining is glo wel gedoen en dit is tans in 'n werkende toestand, aldus die beheerraad. Ook die kragopwekker werk, maar die watertenk waaroor navraag gedoen is word as "nie bestaande" beskryf.
Die beheerraad het hul terugvoering daarmee afgesluit dat die tehuis se finansiële state op versoek besigtig kan word. Die finansiële verslag, asook ander verslae is tydens die algemene jaarvergadering ter tafel gelê en goedgekeur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'