MOSSELBAAI NUUS - Soos dit graduandi in die sogenaamde "nuwe normaal" betaam, het die uitvoerende onderburgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé ook tydens 'n intieme geselligheid tuis verlede Saterdag, 5 Junie sy graad ontvang.
Kotzé het sy honneursgraad in publieke administrasie behaal.
Onder die teenwoordiges was 'n handjievol familie en vriende wat in Kotzé se vreugde gedeel het.
Die geleentheid is aan huis van die Kotzés in Aalwyndal gevier.
Gelukwensinge het opnuut ingestroom nadat foto's van die "gradeplegtigheid" op sosiale media verskyn het.
"My opregte, dog nederige dank aan die gemeenskap van Mosselbaai wat oorweldigend positief reageer het op die nagraadse kwalifikasie wat ek onlangs verwerf het.
Ek bedank ook graag my kollegas en ondersteuningspersoneel vir hul onderskraging, aanmoediging en ondersteuning. Die kwalifikasie sal van nut wees in die uitvoering van ons daaglikse pligte waar ons as raadslede met komplekse situasies werk om die omstandighede van ál ons gemeenskappe te verbeter," het Kotzé gesê.
'n Spesiale oomblik tussen pa en seun. Kotzé se pa, Mathhiam behartig die formaliteite.
Kotzé saam met sy vrou Riëtte en seun, Driaan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'