Update
MOSSELBAAI NUUS - Twee mans van Mosselbaai, Dwyne Modien (21) en Shane Alexander (24) is onlangs in die Mosselbaai-streekhof elk gevangenisstaf opgelê nadat hulle 'n 80-jarige inwoner van die Santos Haven-aftreeoord in Desember, 2018 aangeval en beroof het.
Modien en Alexander het 'n misdaadgeskiedenis en was ten tye van die voorval op parool vrygelaat.
Die slagoffer, Annelene Massyn het om 05:30 op Sondag, 2 Desember 2018 wakker geword en die verdagtes in haar huis aangetref. Sy is met die vuis in die gesig geslaan en met 'n mes gedreig voordat die verdagtes onder meer met drie selfone en 'n iPad op die vlug geslaan het.
Modien en Alexander het toegang tot die aftreeoord, wat 24-uur beman word verkry, deur in 'n boom duskant die pallisadeheining te klim, en oor te spring. Hulle is binne 48-uur by 'n huis op Aslapark in hegtenis geneem en die polisie het op besittings wat aan Massyn behoort, afgekom.
Modien is gevonnis tot 15 jaar direkte gevangenisstraf op 'n aanklag van roof met verswarende omstandighede en drie jaar gevangenisstraf op 'n aanklag van huisbraak.
Alexander is gevonnis tot 12 jaar direkte gevangenisstraf op 'n aanklag van roof met verswarende omstandighede en drie jaar gevangenisstraf op 'n aanklag van huisbraak.
Familie van die slagoffer sê die voorval het 'n blywende effek op haar gehad en dat sy steeds dikwels sukkel om dit te verwerk.
Lees vorige artikels hier:
- Geen borg vir 80-jarige se vermeende aanranders
- Verdagte wat 80-jarige aanval pas uit tronk
- 2 vas na aanval op vrou in aftreeoord
- Bejaarde in aftreeoord aangeval
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'