Update
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai polisiebeamptes het deurnag gewerk om leidrade op te volg nadat ‘n 80-jarige vrou Sondagoggend in haar woning in die Santos Haven Aftreeoord aangeval en beroof is. Die slagoffer is met die vuis in die gesig geslaan en met ‘n mes gedreig.
Sy is ook met verkragting gedreig indien sy om hulp sou roep. Die verdagtes het met verskeie gesteelde goedere op die vlug geslaan.
Polisiewoordvoerder, ao Pieter Koekemoer het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat twee verdagtes, in hul 20’s, vanoggend om 04:30 in ‘n woning op Asla Park in hegtenis geneem is.
“Gesteelde goedere wat aan die slagoffer behoort is in die verdagtes se besit gevind.”
Volgens Koekemoer het die ondersoekbeamptes geen steen onaangeraak gelaat om die verdagtes op te spoor nie. “Ons het ‘n soliede saak. Die polisie werk hard en ons sal nie misdaad op Mosselbaai duld nie.”
Die twee mans bly in aanhouding by die Mosselbaai-polisiestasie en sal op Donderdag, 6 Desember in die Mosselbaai Landdroshof verskyn op ‘n aanklag van huisroof.
Lees 'n vorige artikel: Bejaarde in aftreeoord aangeval
"Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus."