MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-polisie vra die publiek se hulp om die motoris op te spoor wat verantwoordelik is vir die dood van 'n bejaarde vrou in 'n tref-en-trap-ongeluk verlede week.
Avril Pick (63), is op Dinsdag, 12 Julie om ongeveer 19:00 deur 'n voertuig raakgery op Louis Fourieweg oorkant die Uitbreiding 23-sportgronde net voor die KwaNonqaba- en Casino-kruising.
Die oorledene is deur 'n voertuig getref, maar die bestuurder het nie die ongeluk aangemeld nie.
Volgens die oorledene se dogter, Vicky Vichelle October, weet hulle steeds nie waarheen haar moeder die aand op pad was nie. "Ons soek net antwoorde. Wie is die persoon wat my ma se dood veroorsaak het," sê October.
Pick laat haar dogter, Vicky, en seun, Avron Pick, agter. 'n Roudiens is Woensdag, 20 Julie gehou en die begrafnis vind op Saterdag, 23 Julie, by die AGS kerk in Uitbreiding 8, KwaNonqaba plaas.
Enigeen met meer inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte in die saak, sers Zakes Salemane kontak by 044 606 2850 of 083 263 8258.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'