Update
MOSSELBAAI NUUS - Gulsige hengelaars wat op Danabaai se strande toegesak het kort nadat hordes bronshaaie die afgelope week agter die branders opgemerk is, bedreig die voortbestaan van die haaie.
Direkteur van Oceans Research, dr Enrico Gennari is 'n haaikenner en sê die meeste van die groot getal haaie is waarskynlik dragtig. "Hengelaars moet hulle nie vang nie, want daar is 'n groot kans dat 'n haai wat onder stres verkeer sal aborteer."
Die haaie is volgens Gennari uniek en 'n verskynsel om oor te juig. Hy sê daar is meer swart renosters as wat daar haaie is.
"Vier eerder die verskynsel as om die haaie te vang."
Gennari sê die haaie is 'n teken dat die seetoestande gesond is. "Haaie is 'n goeie teken en nie 'n slegte teken nie. Dit beteken daar is volop kos vir hulle want hulle is waarskynlik agter die kleiner visse aan."
Hy sê bronshaaie is nie eintlik gevaarlik vir mense nie. "Hulle sal waarskynlik binnekort weer verdwyn. Die haaie is daar vir 'n rede. Indien hengelaars aanhou om hulle te vang, is die kans groot dat ons al minder van hulle sal sien."
Hengelaars se visstokke staan by tweedestrand op Danabaai waar hordes haaie opgemerk is.
Volgens Gennari is daar meer swart renosters as wat daar haaie is.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'