Update
MOSSELBAAI NUUS - Volgens 'n jarelange tradisie spring graad 12-leerders van Hoërskool Punt op hul laaste skooldag in die gewilde Poort-swemplek by die Punt.
Op Vrydagoggend, 12 Oktober het 'n leerder, Loane Kritzinger aldus haar ma, Alma met die inspring haar voet teen 'n rots gestamp.
Die impak hiervan op haar knie het meegebring dat sy ná die voorval nie haar been reguit kon maak nie.
Loane het paniekerig geraak omdat sy nie kon staan nie en het onderwater probeer kyk wat aangaan. 'n Mede-leerder, André Basson, het opgemerk dat Loane se gesig onderwater is en het haar te hulp gesnel.
Met haar vriende se hulp, spesifiek Anthony Robertson wat haar ondersteun het en haar been reguit gemaak het, is sy tot by die tou gehelp waar Melanie, Gizelle en Chandré haar geselskap gehou het totdat die ambulans opgedaag het. Die By Grace-ambulansdiens het haar na die Life Bay View-hospitaal geneem waar drs Hobbs en Potgieter x-strale, 'n sonar asook 'n MR-skandering gedoen het om te bepaal wat fout is.
Loane moet 'n kniestut dra en met krukke oor die weg kom vir sowat ses weke, maar daar is geen ernstige skade aan haar knie nie.
Loane en haar ouers bedank almal wat tydens die voorval van hulp was.
Graad 12-leerders van Hoërskool Punt staan gereed vir hulle tradisionele sprong op hul laaste skooldag. Foto: Tersia Marais
Lees 'n vorige artikel: Matriekleerder beseer tydens punt-tradisie
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'