Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Kolonel Clive Kaptein gesels op sy rustige manier oor sy loopbaan van 38 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Vir 31 van hierdie 38 jaar, dra hy rang.
Dit is 23 Junie, sy 56ste verjaarsdag en hy is op sy pos as bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone. Op 30 Junie tree hy af.
Jonk gevorm
'n Boorling van Riversonderend, het hy op 23 November 1982, drie dae na hy sy matriekeksamen voltooi het, by die polisie aangesluit. Ander se drome vir hom, was 'n loopbaan in die onderwys. Na 'n besoek aan sy skool deur SANAP-polisielede, destyds die dwelmeenheid, het hy die polisiediens gekies.
In 1984, is hy polisiekollege toe. Sy eerste stasie was op Nababeep. Sy loopbaan het vinnig koers gekry toe hy begin eksamens skryf met die oog op bevordering.
In 1985 word hy sersant. "Ek was 20 jaar oud. In daardie stadium was ek die jongste bruin sersant in die geskiedenis van die polisie."
Op 22 was hy reeds adjudant-offisier en op 23-jarige ouderdom, 'n stasiebevelvoerder op Genadendal.
Op 24 kom hy Mosselbaai toe en word stasiebevelvoerder by Da Gamaskop. .
Hier loop hy hom trompop in die politieke onrus van dié tyd. "Alles in my wese is geslyp gedurende hierdie tyd, veral wat gevorderde leierskap betref." Hy kry te doene met aktiviste wat later op die politieke voorfront in Mosselbaai sou wees. "Ons verskille ten spyt, was daar baie respek. Ons was almal jonk en daarom het ons mekaar verstaan."
Kyk 'n video hieronder
Hoër hoogtes
Hy was ook bevelvoerder van Mosselbaai-polisiestasie en het al sy range plaaslik verwerf. Dan kom hy by die "grappie oor die van".
"Die groot vraag was altyd hoe mens die foon moet antwoord. As jy antwoord kaptein Kaptein, dink mense naderhand jy hakkel." Sy oplossing was om slegs "Kaptein" te antwoord en vandaar die gesprek spontaan te laat ontwikkel.
Sy loopbaan het 'n klomp draaie in die Suid-Kaap gemaak. In 1996 word hy op 31 vol kolonel.
"Ek het nou nog die uitknipsel uit die Mossel Bay Advertiser." Tydens sy diens in Mosselbaai, word hy die eerste en enigste stasiebevelvoerder oor die groter Mosselbaai, dus die stasies Mosselbaai, Da Gamaskop en KwaNonqaba.
Gedurende sy diensjare, behaal die Da Gamaskop-polisiesone éérs die topposisie in die Wes-Kaap en word ook die nommer een sone in Suid-Afrika. Kaptein dien ook as waarnemende stasievelvoerder by die George-, sowel as Knysna-polisiekantore.
Tot en met 2019, was hy verbonde aan die distrikskantoor as koördineerder van sigbare polisiëring in 'n reuse-area. Vanweë gesondheidsredes, het hy versoek om teruggeplaas te word Mosselbaai toe.
Goue Kloue
Vanweë Covid-19, is daar nie 'n luisterryke vaarwel nie. Hy het die stasies in die sone een-een besoek om te groet. Sy leierskapstyl grond hy op sy Christenskap. Hy glo dat alles in plek val as jy God as jou Skepper erken. "Vir my maak die mens agter die rang en die uniform saak. Mentorskap is belangrik. Ek gebruik lankal nie meer 'n diensfoon nie. Wie ook al raad benodig, skakel my privaat nommer."
Hy sien uit daarna om betrokke in die gemeenskap te bly, in watter hoedanigheid ook al. Kolonel Kaptein is getroud met Maria, 'n oud-skoolmaat. Hulle twee seuns is onderskeidelik 'n prokureur en 'n polisieman. Sy dogter is in die onderwys.
Clive Kaptein is bekend as 'n kranige sportman. Hy het nie verniet die bynaam Goue Kloue op die rolbalbaan verwerf nie.
Hy sê hy sal die mense mis. En, omdat hy so lank al 'n rang dra - die uniform.
'n Laaste onderhoud in sy kantoor. Kolonel Clive Kaptein dra al 31 jaar van sy 38 jaar lange loopbaan rang.
Vorige artikel: Bekende polisiehoof lê tuig neer
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'