MOSSELBAAI NUUS - Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het die afgelope tyd goeie vonnisse in die Mosselbaai Streekhof vir sake wat met verkragting verband hou gekry.
Die ondersoekbeamptes van die eenheid werk daagliks onverpoos om misdadigers aan die pen te laat ry.
Diasstrand verkragting
Isak Collins (50) wat skuldig bevind is op ‘n aanklag van seksuele aanranding nadat hy ‘n sewejarige meisie betaal het sodat hy haar kon betas, is op 11 Februarie tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis. Die vonnis is opgeskort vir vyf jaar.
Collins is verder gestraf tot drie jaar huisarres. Die aanklag teen hom spruit uit ‘n voorval by die parkeerterrein op Diasstrand oorkant die Diaz Waterpark. Die saak is suksesvol ondersoek deur ao Alistair Rezant.
Vrou langs pad verkrag
Sersant Luleka Stemela het ‘n saak ondersoek waar ‘n 22-jarige vrou op 11 Julie, 2019 twee keer langs die N2 by KwaNonqaba verkrag is nadat sy haar vriendin afgesien het.
Die beskuldigde, Atenkosi Mahlathi het die slagoffer langs die pad gesien terwyl sy na haar huis terug gestap het. Hy het haar gegryp en na ‘n beboste gebied langs die pad gesleep.
Sersant Stemela het die saak suksesvol ondersoek en Mahlathi is onlangs in die Mosselbaai Streekhof gevonnis tot onderskeidelik agt jaar en 10 jaar op twee aanklagte van verkragting en agt jaar gevangenisstraf op ‘n aanklag van roof met verswarende omstandighede.
Man wat buurvrou verkrag swaar gestraf
‘n Mosambiekse burger, Christiano Ndeve (25) is op 4 Februarie tot onderskeidelik 10 jaar gevangenisstraf gevonnis vir verkragting en agt jaar gevangenisstraf vir poging tot verkragting.
Die aanklagte teen hom spruit uit ‘n voorval op 11 November, 2019 waartydens hy sy 27-jarige buurvrou verkrag het toe sy ‘n wasmandjie by hom wou leen. Die saak is deur ao Alistair Rezant ondersoek.
Tronkstraf vir Groot Brak verkragter
Die 20-jarige Vernon Bruintjies is onlangs tot effektief 15 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van ‘n 14-jarige meisie.
Bruintjies het op die betrokke aand saam met die slagoffer en sy meisie op ‘n bed geslaap. Hy het gedurende die nag oor sy meisie geklim en die slagoffer verkrag. Die saak is deur ao Alistair Rezant ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'