Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - Aangesien soveel afgetredenes 'n "tweede lewe" in Mosselbaai en omgewing begin, het die Mosselbaai-besigheidskamer verlede week hul eerste werkswinkel met die uiters relevante tema effektiewe aftredebeplanning, aangebied. Belangstelling was van so 'n aard, dat die geleentheid vir 'n stampvol lokaal van sowat 200 afgevaardigdes in die Diaz Strand Hotel gesorg het.
In sy verwelkoming, het bestuurslid van die besigheidskamer en voormalige voorsitter, Fanus Truter gesê dat die geleentheid juis ten doel het om Mosselbaai en omgewing, 'n selfs meer aantreklike aftree-opsie te maak as wat dit reeds is. Truter het ook genoem dat die geleentheid 'n vertrekpunt is vir soortgelyke byeenkomste wat in kleiner, omliggende dorpe gehou kan word ten einde waarde tot afgetredenes se lewens toe te voeg.
Beplan kreatief
Interessanthede waarmee Truter die gesprek ingelui het, is dat, aangesien afgetredenes 'n langer lewensverwagting het, van die vinnig groeiendste ondernemings in Kalifornië, VSA, tuisversorging is.
Baie afgetredenes begin ook dikwels met nuwe sakeondernemings. Tot soveel as 60% van klein besighede wat begin word, behoort aan afgetredenes, het die programleier Danie Acker van Rauch Gertenbach Prokureurs genoem.
Verskeie rolspelers vanuit die finansiële dienstesektor, die regswêreld, gesondheidsdiensteverskaffers het insiggewende bydraes tot die gespreksgeleentheid gelewer. Sprekers wat finansiële dienstemaatskappye verteenwoordig het, het keer op keer beklemtoon dat die nuwe neiging en gonswoord in dié bedryf, juis aftredebeplanning is.
Daar is algemeen daarna verwys dat dit wys is om vir minstens 40 jaar ná aftrede te beplan. Van die groot kopsere onder bespreking was juis die feit dat daar nie voldoende aftredebeplanning gedoen word nie.
Groot-Brakrivier se seniors het die geleentheid baie sinvol gevind. Hier is van die gaste saam met prof Erwin Schwella en pastoor Leon Prinsloo van die AGS Greenhaven, Groot-Brakrivier.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se Jaco Roux wat gemoeid is met ruimtelike beplanning in die groter Mosselbaai, het bygevoeg dat daar op alle vlakke, kreatief gedink moet word oor aftrede.
Dit vind volgens hom gestalte in van die ontwikkelings wat vir Mosselbaai en omgewing goedgekeur is. Juis goeie nuus in hierdie verband, is deur Mornay Beukes van die ATKV oorgedra tydens sy spreekbeurt toe hy noem dat die volgende ATKV Negester-ontwikkeling vir Hartenbos goedgekeur is.
Toetrede bepleit
Professor Erwin Schwella van Universiteit Stellenbosch se Skool vir Openbare Leierskap, het die seniors in die gehoor gemotiveer en uitgedaag tot "toetrede" tot die ekonomie deur hulle breinkrag te mobiliseer. Hy het gemaan teen "aftrede" wat 'n meer passiewe benadering behels.
Voorts het hy gesê dat seniors deur toetrede 'n daadwerklike impak kan hê op van Suid-Afrika se grootste vraagstukke, onder meer armoede, ongelykheid en werkloosheid. Schwella het gesê dat kennis die enigste kommoditeit is wat vermeerder, veral wanneer dit gebruik en met ander gedeel word.
Kansa-verteenwoordigers, Janine Frost en Minette van Zyl, saam met prof Erwin Schwella en munisipale bestuurder, adv Thys Gilliomee en 'n gas. Foto: Cornelle Carstens
Hy het genoem dat daar groot geleentheid is vir deelname wat betref die ontwikkeling van die innovasie-distrik in Mosselbaai. Met die oog op die ontwikkeling van gesondheidsorg, het Schwella gesê dat Mosselbaai 'n plek van "wellness, health and wealth" behoort te kan wees, veral wat gesondheidstoerisme betref.
Hy het tydens die werkswinkel die implementering van 'n opwindende sosiale besigheidsmodel by die AGS Greenhaven in Groot-Brakrivier bekendgestel.
In die beplanning vir September vanjaar, is die bou van 'n multi-funksionele sentrum, waarvoor aldus prof Schwella, 60 000 bakstene onder meer benodig word vir die konstruksie daarvan. Hierdie veeldoelige sentrum skep volgens prof Schwella nie net sosiale kohesie nie, maar ook ekonomiese geleenthede wat binne die Suid-Afrikaanse konteks, broodnodig is.
Hy het tydens die geleentheid 'n beroep gedoen vir skenkings, maar ook juis vir die belegging van "gryskrag", bedoelende nie net kennis nie, maar ook ervaring. Tot groot vermaak van die gehoor, het hy die konsep 'n "stokvel op steriods" genoem.
Lees 'n vorige artikel: Sakegesprek oor aftrede
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'