Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-besigheidskamer se eerste werkswinkel met die uiters relevante tema effektiewe aftredebeplanning, het Vrydag gesorg vir 'n stampvol lokaal in die Diaz Strand Hotel toe 'n gehoor van sowat 200 afgevaardigdes die geleentheid bygewoon het.
Dit is 'n welbekende feit dat afgetredenes graag van Mosselbaai en omstreke 'n nuwe tuiste maak, daarom het die besigheidskamer hierdie geleentheid aangebied ten einde 'n "tweede lewe" in die omgewing, nog meer aantreklik te maak. Verskeie rolspelers vanuit die finansiële dienste-sektor, die regswêreld, gesondheidsdiensteverskaffers het insiggewende bydraes tot die gespreksgeleentheid gelewer. Die Mosselbaai-munisipaliteit en ATKV het ook 'n inset gelewer aangaande ontwikkelingsprojekte wat in die vooruitsige gestel word.
Professor Erwin Schwella van Universiteit Stellenbosch se Skool vir Openbare Leierskap, het die seniors in die gehoor gemotiveer en uitgedaag tot "toetrede" tot die ekonomie deur hulle breinkrag te mobiliseer.
Hy het gemaan teen "aftrede" wat 'n meer passiewe benadering behels.
Voorts het hy gesê dat seniors deur toetrede 'n daadwerklik impak kan hê op van Suid-Afrika se grootste vraagstukke, onder meer armoede, ongelykheid en werkloosheid. Schwella het gesê dat kennis die enigste kommoditeit is wat vermeerder, veral wanneer dit gebruik en met ander gedeel word.
Professor Schwella het tydens die werkswinkel die implementering van 'n opwindende sosiale besigheidsmodel by die AGS Greenhaven in Groot-Brakrivier bekendgestel.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'