Video
MOSSELBAAI NUUS - Drie insittendes van 'n klein vragmotor is op Woensdag, 21 Julie beseer nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit teen 'n boom gebots het.
Die ongeluk het omstreeks 15:00 op die N2 naby Klein-Brakrivier in die rigting van Mosselbaai plaasgevind.
Nooddienswerkers was op die toneel en drie beseerdes is deur plaaslike ambulansdienste na die hospitaal geneem.
Die vragmotor is die enigste voertuig wat in die ongeluk betrokke was.
Die ongelukstoneel op 21 Julie waarin drie insittendes van 'n vragmotor beseer is. Foto's: Jannie du Plessis
Maandag
Net sowat 500m vanaf die ongelukstoneel op Woensdag, 21 Julie op die N2 naby Klein-Brakrivier waarin drie insittendes van 'n vragmotor beseer is, het daar Maandag, 26 Julie weer 'n vragmotor die pad verlaat. Dié ongeluk het net na 14:00 plaasgevind.
Die bestuurder wat die enigste insittende was, is deur nooddienste met meganiese toerusting uit die wrak gehaal. Die trok het op sy dak beland en die beseerde bestuurder is deur die agterruit van die wrak bevry. Die man is deur 'n plaaslike ambulansdiens na die hospitaal geneem vir behandeling. Geen ander voertuie was in die ongeluk betrokke nie.
Kyk 'n video hieronder:
Dinsdag
'n Derde ongeluk die afgelope week waarin vragmotors betrokke was, het Dinsdagaand, 27 Julie plaasgevind. Twee swaarmotorvoertuie was in die ongeluk op die N2 tussen Klein-Brakrivier en Groot-Brakrivier in die rigting van Groot-Brakrivier betrokke.
Beide voertuie het die ryvlak verlaat. Een vragmotor het sowat 10m onder die ryvlak teen die wal af op sy dak te lande gekom. Die tweede vragmotor se agterkant het teen die sperreëling gestaan terwyl die voorste gedeelte na die onderkant van die wal gelê het.
Die ongeluk het net na 20:00 plaasgevind. Nooddienspersoneel is na die toneel waar die beseerdes behandel is. Die twee insittendes van die een vragmotor wat nartjies vervoer het, is het beserings opgedoen. Die bestuurder van die ander vragmotor, 'n sementtenkwa is ongedeerd. Die tenkwa van die vragmotor was leeg.
Nartjies net waar jy kyk op die ongelukstoneel Dinsdagaand, 27 Julie op die N2-snelweg sowat twee kilometer vanaf die Groot-Brakrivier-afrit in die rigting van George.
Al drie ongelukke het binne een week sowat vyf kilometer uit mekaar op die N2 plaasgevind. Die oorsake van al drie ongelukke is onbekend en word ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'