Update
MOSSELBAAI NUUS - Sosiale media het gegons vandeesweek nadat 'n 20-jarige plaaslike man Sondag, 7 Maart omstreeks 13:30 by Diasstrand vermis geraak het nadat hy saam met vriende daar gaan swem het.
Volgens André Fraser, stasiebevelvoerder van NSRI se Stasie 15 op Mosselbaai, was hulle besig met roetine-oefeninge toe hulle omstreeks 14:01 die noodoproep ontvang het.
Die bemanning het hulle op die reddingsvaartuie, St Blaize en Bravo na die toneel gehaas, maar niks gevind nie. Teen laatmiddag is die taak in die hande van die polisie se watervleuel gelaat.
Tracey Reinecke, afrigter van die Mossel Bay Surf and Lifesaving Club (MBSLC) het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle met oefeninge besig was toe drie mans hulle genader en gesê het dat een van hul vriende in die water verdwyn het.
Volgens Reynecke het verskeie van die lewensredders vir 'n tyd lank in die gebied, wat 'n hele ent van die normale swemgebied is, na die man gaan soek.
Hulle soektog het egter ook niks opgelewer nie. Duikers het op Maandag, 8 Maart tot en met hoogwater gesoek waartydens die vierwielmotorfietse van die plaaslike buurtwag op die strand patrollie gery het op soek na die vermiste man, Amkelo Mzi.
Die polisie se taakmag het Woensdag, 10 Maart oefeninge in die baai gedoen en toe ook met die soektog gehelp. Volgens Grey Stopforth, voorsitter van MBSLC bestaan al die lewensredderklubs in en rondom Mosselbaai uit vrywilligers.
"Lewensredders word tydens vakansietye deur die munisipaliteit vergoed vir dienste op die strande verrig. Baie van die lewensredders is skoolgaande kinders of studente en is dit vir hulle moeilik om op eie koste diens te doen. Lewensredders van die klub moet egter 20 ure vrywillige diens doen voor hulle vakansietye teen betaling diens kan doen. Ek dink dat die klubs en die munisipaliteit hande moet vat om die Blouvlagstrande deur die jaar vir die plaaslike inwoners en besoekers te beveilig," sê Stopforth.
Munisipaliteit reageer
Die Mosselbaai-munisipaliteit het in reaksie op vingerwysings aangaande lewensverlies op plaaslike strande, gesê dat die groter Mosselbaai oor meer as 122km-kuslyn en 36 erkende strande beskik. Tydens hoogseisoen word lewensredders op meer as 20 van hierdie strande ontplooi. Sommige strande, soos Danabaai, word nie deur lewensredders beman nie omdat dit nie erkende swemstrande is nie.
Kennisgewings is by strande aangebring om teen die moontlikheid van sleurstrome te waarsku. Ongelukkig is dit vir die munisipaliteit finansieël net nie moontlik om vir die duur van die somermaande lewensredders by al die strande te plaas nie. Die munisipaliteit doen 'n beroep op strandgangers om te let op kennisgewingsborde wat pertinent waarsku teen die gevare by sekere strande.
Amkelo Mzi (20).
Seestrome
Riana Viviers het op Facebook die volgende kommentaar gelewer. "Dis 'n super-gevaarlike strand met vieslike seestrome. Daar sal groot borde moet opkom om mense te waarsku van die erge seestrome. Maar jong kinders wat nie eens kan swem, kom daar van oor die bult om daar te kom swem."
Ivan van der Merwe sê in sy kommentaar op Facebook: "Wat ek nie verstaan nie is dat Mosselbaai 'n klomp Blouvlagstrande het maar dit is seker die enigste kusdorp sonder lewensredders deur die jaar of selfs net naweke."
Teen druktyd was Mzi nog nie opgespoor nie.
Vorige artikel: Soektog na swemmer duur voort
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'