MOSSELBAAI NUUS - 'n Vrou van Mosselbaai wat deur 'n dwaalkoeël getref is terwyl die polisie in 'n struweling met twee mans betrokke was, sterk in die hospitaal aan.
Die polisiebeamptes verbonde aan die KwaNonqaba-polisiestasie het die KwaNonqaba-gebied omstreeks 03:30 op Dinsdag, 11 Augustus gepatrolleer en twee verdagtes wat in die straat gestap het, genader.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kaptein Malcolm Pojie het hulle die verdagtes gevra om stil te staan, maar die mans het geweier en aangestap.
Pojie sê toe die polisie hulle nader, het 'n verdagte hulle met 'n kapmes van agter af aangeval. Hy sê die verdagte het die polisieman se wapen probeer afneem, waarna twee skote vanuit die dienspistool afgevuur is. Die verdagtes het toe van die toneel gevlug en is steeds op vrye voet.
Pojie sê die polisiebeamptes het 'n geluid vanuit 'n nabye woning gehoor en op 'n 60-jarige vrou wat beseer was, afgekom. Sy het 'n koeëlwond in haar nek gehad. Die slagoffer is na 'n hospitaal op Mosselbaai geneem en haar toestand is stabiel.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek nou 'n saak van poging tot moord.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'