MOSSELBAAI NUUS - Motoriste en verbygangers by die kruising van Melkhoutstraat en Louis Fourieweg, Heiderand sou verlede Vrydag kleurvolle sambrele langs die pad opgemerk het.
Hoewel Vrydag 'n besonderse warm somersdag was, het hierdie sambrele maar min met die afweer van die hitte te doen gehad. Dit was 'n bewusmakingsveldtog vir menseregte van die transgendergemeenskap.
Die vreedsame byeenkoms is deur Social, Health & Empowerment Feminist Collective of Transgender Women of Africa oftewel SHE gehou.
Die organisasie is sowat 10 jaar gelede gestig, maar het eers in 2019 'n tak op George geopen wat die Tuinroete dien.
Bernelee Wonderlik is 'n maatskaplike werker by die organisasie. Sy verduidelik dat Vrydag, 11 Maart se optrede nie net 'n bewusmakingsveldtog was nie.
"Een van ons lede moes in die hof verskyn en ons het op 'n vreedsame manier gaan ondersteuning bied. Ons verteenwoordig die regte van die breë LGBTQI + gemeenskap."
Wonderlik sê dat SHE opnames maak van die menseregteskendings wat hulle lede ervaar en maandeliks daaroor verslag doen. In die geval waaroor sy uitbrei, loop die lid etlike jare reeds deur onder bure wat nie net vir haar nie, maar ook haar ouers en ander familielede teister. Dinge het sover gegaan, dat jong kinders verwant aan die lid, onder klippe gesteek en beseer is.
"Daar word 'n saak van aanranding en naamskending ondersoek."
Wonderlik verduidelik dat SHE hulle lede gereeld bystaan om by die polisie sake aanhangig te maak wanneer dit kom by menseregteskendings. SHE hou ook deur-tot-deur-veldtogte om bewusmaking te skep. Hulle bied ondersteuning aan families en tree ook toe tot die hormoonvervangingsproses.
"SHE bied 'n veilige ruimte waar ons lede hulself kan wees tussen mense wat hulle verstaan."
Haar passie vir die veld waain sy werk is merkbaar. Met Menseregtedag op 21 Maart voor hande, meen Bernelee dat die gemeenskap 'n wesenlike rol kan speel om by te dra tot groter aanvaarding van die LGBTQI + gemeenskap.
"Dit begin alles by respek. Mense kyk hulle vas teen die ID-boekie, maar as jy twyfel, vra met vrymoedigheid die persoon voor jou watter voornaamwoord hulle verkies - hy of sy. Dit maak 'n geweldige verskil aan hulle gevoel van menswaardigheid."
Lede van SHE tydens hulle bewusmakingsveldtog.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'