Update
MOSSELBAAI NUUS - Met die bekendstelling van sy debuut-digbundel, Die jaar toe pa... gaan daar beslis opnuut notisie geneem word van Hannes Visser, redakteur van die Oudtshoorn Courant, susterkoerant van die Mossel Bay Advertiser. Nie net is Visser se gedigte opgeneem in Nuwe Stemme 6 nie, maar hy is ook 'n bekroonde joernalis en rubriekskrywer.
Visser het verlede week in Mosselbaai by die Monroe Teater van die gedigte uit sy bundel voorgelees en elkeen uit die seleksie vir dié spesifieke aand, met 'n boeiende bespreking toegelig.
Die bundel, geskryf in 'n biografiese styl met die gedigte sonder titels, maar datums asof dit dagboekinskrywings is, lees "soos 'n storieboek" het 'n lid van die gehoor te reg opgemerk. Visser skryf die gedigte vanuit die perspektief van sy 10-jarige self wat 'n verfrissend, kinderlike perspektief gee op gebeure wat soms skokkend en wrang is.
Die voorlesings is afgewissel met komediekabaret deur 'n kollega van die Mossel Bay Advertiser, Cornelle Carstens, wat vir 'n program met 'n goeie balans tussen erns en luim gesorg het.
"Hannes het sy storie met soveel oortuiging en gemak gedeel, dat ek soms gewonder het of dit nogsteeds deel van die gedig is. Beslis 'n geheel nuwe ervaring van digkuns," het een van die gaste opgemerk.
Visser het reeds die bundel in Oudtshoorn, George, Calitzdorp en Prins Albert, laasgenoemde in gesprek met die gister Daniël Hugo. Hy is hierdie naweek in Stellenbosch vir 'n bekendstellingsgeleentheid en later vandeesmaand ook in Bloemfontein.
Hannes en Manda Visser op die rooi tapyt by die Monroe Teater.
Hannes Visser, redakteur van die Oudtshoorn Courant saam met kollega van die Mossel Bay Advertiser, Cornelle Carstens in die gedaante van een van haar kabaretkarakters, Moira Fortune tydens sy digbundel se bekendstelling.
Hannes Visser met sy debuut-bundel, Die jaar toe pa...
Lees 'n vorige artikel hier: Redakteur stel digbundel bekend
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'