TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Tegnologie, flinke optrede en goeie samewerking tussen polisielede van Mosselbaai en Riversdal het daartoe gelei dat nie net gesteelde goedere ter waarde van R150 000 teruggevind is nie, maar ook dat drie verdagtes aan die pen gery het.
Volgens inligting verskaf deur die polisie, volg die arrestasie van drie verdagtes na 'n inbraak op Hartenbos wat op 12 Maart in die vroeë oggendure plaasgevind het.
Die klaer het van 'n geraas wakker geword en gesien hoe twee verdagtes met 'n gesteelde items in hulle besit weghardloop.
Die klaer kon deur middel van GPS-opsporing wat op sy tabletrekenaar geaktiveer was bepaal waar die verdagtes hul min of meer bevind het en die inligting is aan die polisie deurgegee.
Sersante Dayle Brandt en Likhaya James van die Da Gamaskop-polisie het inligting ontvang aangaande 'n voertuig op die N2 naby PetroSA onderweg na Kaapstad wat vermoedelik gesteelde items vervoer.
Die klaer het die polisie deurgaans op hoogte gehou van waarheen die sein lei, terwyl Brandt en James op hulle beurt die Albertinia- asook Riversdal-polisie van die voorval ingelig het.
Toe Brandt en James in die omgewing van Stilbaai kom, het hulle nuus ontvang dat die Riversdal-polisie die verdagte voertuig omstreeks 07:50 gestop het.
Binne die voertuig, waarin drie verdagte mans was, is 'n aantal items insluitend 'n televisie, skootrekenaars, selfone asook gereedskap gevind.
Die verdagtes kon geen verduideliking bied vir die goedere in hulle besit nie en is in hegtenis geneem.
Hulle is op Riversdal aangehou, maar is intussen na Mosselbaai vervoer waar die bewysstukke tans ook in die Da Gamaskop-polisie se besit is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'