MOSSELBAAI NUUS - Persone wat die Danabaai-kliniek vir doktersondersoeke vir chroniese medikasievoorskrifte besoek het, sal vanaf 1 September hierdie diens slegs by die Alma-kliniek ontvang.
Verwarrende gerugte dat onder meer die Danabaai-kliniek gaan sluit is, volgens 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement in Eden, Nadia Ferreira, onwaar.
Meer vaartbelyn
"Die Wes-Kaapse Regering Gesondheid werk met 'n groeiende bevolking met 'n komplekse siekteprofiel wat druk op plaas op ons dienste, onder meer in Mosselbaai. Meer as die helfte van die provinsie se pasiënte het twee of meer voorkombare chroniese siektetoestande. Die druk tussen beskikbare hulpbronne en die diensvereistes word toenemend groter. Daarom word voortdurend planne beraam om die druk op die stelsel te verlig.
"Sommige fasiliteite se dienste word daarom na ander, groter fasiliteite verskuif om meer dokters-ure in te pas. By ander fasiliteite met minder personeel verander dienste om die toenemende aanvraag te verlig.
Met al hierdie besluite probeer die sub-distriksbestuur sover en bes moontlik om in al ons pasiënte se behoeftes te voorsien," aldus Ferreira.
"Met die groot bevolking in die Mosselbaai sub-distrik is dit nie altyd moontlik om almal tevrede te stel nie. Dit is wel belangrik om te alle tye 'n kwaliteit diens te lewer," sê Ferreira.
Danabaai satellietkliniek
Pasiënte met 'n chroniese siekte wat ses-maandeliks vir 'n herhaalvoorskrif 'n dokter moet konsulteer, gaan vanaf September slegs by die Alma-kliniek per afspraak deur 'n dokter ondersoek kan word.
Die doel is om pasiënte se voorskrif op die elektroniese stelsel van die chroniese resepteringseenheid in Kaapstad te plaas. Hierdie elektroniese sisteem is nie by die Danabaaikliniek beskikbaar nie.
Medikasie net Dinsdae
Tydens die ses-maandelikse doktersbesoek sal chroniese medikasievoorraad vir twee maande vooruit by die Alma-apteek aan 'n pasiënt uitgereik word. Die res van die verpakte voorskrifmedikasie sal daarna vanaf Kaapstad by die Danabaai satellietkliniek afgelewer word waar die pasiënt dit op Dinsdae sal kan afhaal.
Die satellietkliniek sal funksioneer as alternatiewe afsetpunt vir chroniese medikasie wat pasiënte net op geskeduleerde datums kan afhaal. Pasiënte moet identifikasie toon.
Telefoniese afsprake kan by mnr Van Esland by Alma Kliniek (044 693 0732) gemaak word. Vir medikasie-navrae kan die aptekers, mejj L Roets of E Mentz, by dieselfde telefoonnommer gekontak word.
Vrydae gesondheidsdiens
Die dienstye verander vanaf 1 September na Vrydae, waarneer 'n kliniese verpleegpraktisyn 'n omvattende gesondheidsdiens sal lewer vir onder meer moeder- en kind gesondheidsdienste, chroniese- en akute siektes. Pasiënte wat nie deur die verpleegkundige hanteer kan word nie en buite die bestek van haar praktyk val, sal na Alma-kliniek vir 'n dokterskonsultasie verwys word,
Georgeweg Satellietkliniek
Dié satellietkliniek funksioneer Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 08:00 tot 15:30. Die fasiliteit se infrastruktuur is nie geskik vir die huidige aanvraag nie.
Dit moet slegs pasiënte vanuit die direk omliggende areas bedien, maar word oorlaai met besoeke van pasiënte wat verkies om nie die Alma-, D'Almeida- en Hartenbos satellietklinieke te besoek nie.
Dit bring mee dat pasiënte onnodig lank op diens moet wag.
"Ons vra pasiënte se samewerking om, waar moontlik, na hul naaste kliniek te gaan" benadruk Ferreira.
Groot-Brakrivier
Hierdie kliniek funksioneer vyf dae per week vanaf 07:30 tot 16:00. Die Groot Brak mobiele kliniek bedien ook Klein Brak, Tergniet, Reebok, Powertown en die omliggende Klein Brak-plase. Pasiënte met chroniese siektes kan die Groot Brak-kliniek per afspraak vir die sesmaandelikse hersiening gebruik.
Landelike gebiede
Die Friemersheim- en Herbertsdale satellietklinieke funksioneer Dinsdae en Donderdae vanaf 09:00 tot 15:00 en bedien die omliggende plase met 'n mobiele diens. Op Friemersheim word ook elke tweede en derde Vrydag kliniekdienste gelewer.
Die Sonskynvallei en Brandwag satellietklinieke funksioneer Maandae en Woensdae tussen 09:00 tot 15:00. Brandwag se mobiele kliniek bedien ook omliggende plase.
Tandsorg verskuif na Alma-kliniek
Tandheelkunde dienste skuif ter wille van groter werksruimte vanaf die Mosselbaai-hospitaal na die nuwe gebou by die Alma-kliniek se gemeenskapsdagsentrum en sal daagliks van 07:30 – 16:00 beskikbaar wees.
Die opening van dié nuwe kliniek is op 9 Oktober. Die tandheelkundespan bestaan uit dr B Rickers (tandarts), me T Rickers (mondhigiënis), me D Nielsen en me Lamprecht (tandheelkunde-assistente), wat sessies werk. By die nuwe kliniek sal tandheelkundige konsultasies, behandeling van pyn en sepsis, tandheelkundige x-trale, vulsels, die skoonmaak van tande en fissuurverseëlings asook fluoride-behandelings gedoen word, maar valstande sal nie verskaf word nie.
Besprekings kan by die kliniek gemaak word vir volwassenes op Maandae, Dinsdae, Donderdae en vir kinders en leerders jonger as 18 jaar op Woensdae.
Provinsiale hospitaal
Die reëling dat kliniekdienste nie by die provinsiale hospitaal gelewer word nie, sal voortaan baie streng toegepas word. Slegs buite-pasiënte met 'n kliniekverwysing sal by die provinsiale hospitaal gehelp word sodat effektiewe gesondheidsdienste gelewer mag word.
Lees 'n vorige artikel: Gerugte oor plaaslike klinieke onwaar
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'