MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Danabaai gaan moontlik vervolg word nadat hy verlede Vrydag 'n vermeende inbreker doodgeskiet het. Dit is egter standaard prosedure wanneer iemand nie aan natuurlike oorsake oorlede is nie.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat drie verdagtes in die vroeë oggendure gepoog het om by die woning in E. Capitatastraat ongemagtigde toegang probeer verkry waarop hulle deur die huiseienaar gekonfronteer is.
Volgens 'n betroubare bron was dit nie die eerste keer dat dié woning geteiken is nie. Die verdagtes het kort na die konfrontasie glo op die vlug geslaan waarna een van hulle raakgeskiet is. Die oorledene het 'n paar meter verder in 'n beboste gebied langs die woning inmekaar gesak.
Sensitiewe stadium
Polisiewoordvoerder, ao Kappie Kapp, sê die ondersoek is in 'n sensitiewe stadium en nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ander twee verdagtes was met die ter perse gaan steeds op vrye voet.
Intussen blyk dit dat Danabaaiers onlangs onder 'n vlaag van misdaad deurgeloop het. Bure van die huiseienaar het aan die Mossel Bay Advertiser gesê daar is 'n week voor die voorval by 'n woning in dieselfde omgewing ingebreek en kort voor dit was daar na bewering ook 'n voorval by 'n woning in E. Conicastraat.
"Daardie ou het net sy familie beskerm. Wat soek 'n vreemdeling 03:00 die oggend in jou erf?" was die algemene vraag.
Kapp sê die identiteit van die oorledene is nog nie vasgestel nie. Die saak word deur ao Geoffrey Moos van die KwaNonqaba-polisiestasie ondersoek.
Misdadigers het die afgelope tyd huise in E.Capitatastraat en omliggende gebiede in Danabaai geteiken.
Nooddienste staan by die liggaam van 'n vermeende inbreker wat na bewering deur 'n Danabaai-huiseienaar geskiet is.
'n Vermeende inbreker se liggaam is hier gevind kort nadat hy deur 'n huiseienaar in Danabaai raakgeskiet is. Adjudant Offisier Hennie Bylsma van die KwaNonqaba-polisiestasie is op die betrokke oggend na die toneel ontbied.
Die drie verdagtes het na bewering oor hierdie muur gevlug nadat hulle toegang tot 'n erf in Danabaai verkry het.
Adjudant Offisier Hennie Bylsma is saam met die ondersoekbeampte, ao Geoffrey Moos op die betrokke oggend van die skietvoorval na die toneel ontbied. Hier staan Bylsma by die gebied waar drie verdagtes toegang tot 'n erf in Danabaai verkry het. Foto's: Louise Karsten
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’